Rubrieke - André le Roux

Le derrière

Wag, sê jy, laat ons nou hierdie tergende vraag eens en vir altyd uit die weg ruim, daardie gewigtige kwessie vir enige vrou.

Wat? vra sy oor haar skouer, ek het nog nie eens die vraag gevra nie.

Jy sê as sy so voor die spieël staan en sy kyk so oor haar skouer, ken jy klaar die vraag. Dit sal immers nie die eerste keer wees dat jy die vraag hoor nie, maar dis hopelik nou die laaste. Só …

“Nee,” antwoord jy, “jou boude lyk nié te groot in daardie jeans nie.”

“Is jy seker?” Sy probeer haarself van agter in die spieël bekyk. Jy kan maar voor jou kyk, sê jy, ek sal agter jou kyk.

“Boude is tog so ’n … benoude woord,” sê sy. Jy sê vir jou is dit een van die sagste woorde in Afrikaans, so mooi vol in die mond, maar as sy wil, sal jy Frans praat.

“Jou derrière is pragtig!”

Jy spreek die erre uit asof jy van Malmesbury kom. Die Franse weet darem net hoe om romanties te klink as hulle na jou agterkant wil verwys. Dis al wat die woord beteken: agterkant, maar dit klink soveel mooier as agterstewe, agterent, sitvlak of stêre. Selfs mooier as die mooi woordjie boude.

Le derrière.

“O. So jy dink nie myne is te groot nie?”

Kyk, daar’s twee soorte vroue in die wêreld. Dié wat vra: Dink jy nie my boude is te groot nie? En dié wat dit nog gaan vra.

Nou luister mooi, verduidelik jy: Vir ’n man is géén vrou se derrière óóit te groot nie. Vra enige man: Hy sal dalk nog dink daardie vrou is ’n bietjie ruim gebou, maar haar derrière te groot? Nooit.

“Waarom dink jy kyk ’n man ’n vrou agterna? Om oor haar skouer te kyk waarheen sy op pad is?”

Daardie wegstap van ’n vrou … die sagtheid in die rondheid, die subtiele sywaartse swaai. Dit kan statiese elektrisiteit opwek en ’n man skoon van rigting af gooi.

Dis ook hoekom ’n vrou altyd mooi regop moet sit, sodat haar rug effe induik en haar derrière uit. Dit beklemtoon haar vorm, hetsy gebou soos ’n appel of ’n peer, of dalk ’n saggekookte eier in sy dop, jy raak skoon lus vir ontbyt met vrugteslaai. Of ham, die heerlike herinneringe aan ham …

En wat van daardie vrou wat soos ’n opgestopte wors lyk? Daardie een vir wie hulle albei skuifdeure van ’n restaurant moet oopmaak – en dan moet sy steeds skuins draai om in te kom? Of die een wat lyk of sy op ’n sak mielies sit en as sy opstaan, kom jy agter sy’t op haarself gesit?

“Het sy dan nie iemand by die huis wat vir haar kan sê sy moenie sulke stywe klere dra nie?” vra sy.

Wel, daar’s altyd iets te sê vir ’n goedgestopte wors of die heilsaamheid van mielies, sê jy. Niks verkeerd met daardie soort vrou se derrière nie – as hulle jou sou vra – dis net dat haar ma haar verkeerd aantrek, dis al.

“Kyk nou maar vir Kate Moss,” probeer jy verduidelik. “Sy’s mos net goed om op ’n afstand na te kyk. Mos glad nie ’n derrière aan haar nie. Watter man voel dan nou aangetrokke tot ’n strykplank?”

Jy kan sien dit laat haar beter voel, want sy’t mos nog nooit só daaraan gedink nie.

“Ek meen mos,” sê jy ter verdere verduideliking. “Selfs haar bene lyk soos die pootjies van ’n strykplank. Wat’s daar om aan te vat?” Een ding van haar nuwe klerereeks – sy’t nie baie materiaal nodig nie.

Sy voel nóg beter en draai terstond haar rug op jou.

Wat nou? Jy probeer mos net verduidelik hoe dié dinge werk, nou’t jy weer iets verkeerds gesê.

“Dat jy aan my derrière kan vat, man,” sê sy. “Ek’s mos mál daaroor as jy Frans praat!”