Rubrieke - André le Roux

Matriekafskeid

“Ek dag ons het daardie rok al in 2005 aan die Heilsleër geskenk?” vra jy met vasberade verbasing. Jy’t immers begrip vir haar probleem dat sy 1. niks het om aan te trek nie en 2. daar te min hangplek in haar klerekas is. (Vir ’n man klink dit na ’n totale teenstrydigheid, nie vir ’n vrou nie.) Dié dat jy haar in 2005 oortuig het om haar ou klere aan die Heilsleër te skenk.

“Waar kom daardie rok dan nou vandaan?”

Sy’t skielik nostalgies geraak, toe smokkel sy die rok onder jou oë terug tot in haar klerekas met die min hangplek … haar matriekafskeidsrok.

Sy kan nog steeds nie gló sy het so ’n rok gedra nie.

“Ek kan dit steeds nie gló nie,” sê sy. “Maar kyk, dit pas sowaar nog!” Wat ’n vertroosting is.

Blinkertjies om die nek, wye strik om die middel, pienk pofmoue en ’n onderrok soos kantgordyne, wat haar nes ’n strooimeisie laat lyk het.

“Onthou jy, hier was so ’n groot chiffon-blom op die strik, reg in die middel?”

Jy onthou. Sy’t nogals geblom.

“Daar was ook ’n blom op jou skouer, wat om een of ander rede afgesak het tot op jou regterbors. En die chiffon-blom op die strik het afgeskuif as jy sit, toe sit jy daar met ’n blom op jou blom.”

Op die dansbaan het jy ál in die blomme tussen julle vasgedans, sy’t baie ver gevoel.

Jou eie pak klere, onthou jy, het by die blom-tema aangesluit, met breë lapelle in die wind en dubbelbors-knope al die pad, jy’t ’n bietjie soos Napoleon gelyk. Daarby ’n strikdas met kolle wat by jou skoene pas, moenie vra hoe nie.

Hoe kom julle daar? het haar pa gevra.

Met die motor, Oom.

Wie se motor?

My pa se motor, Oom.

Weet jou pa daarvan? (“Wat het hy gedink?!”)

Ja, Oom. Ek kan bestuur, Oom.

Net julle twee in die motor? (“Hel, jou pa was knaend.”)

Nee, Oom, ons moet nog mense oplaai wat nie vervoer het nie, Oom. Ná die tyd sal ons hulle almal weer moet aflaai, Oom. Dus, as ons dus dalk so ’n bietjie laat is, dus, Oom … (“Hy’t my skoon oor my woorde laat val.”)

“Jy’t net so gesê om tyd te wen sodat ons ná die tyd eers ons eie after party op die skool se rugbyveld kon hou terwyl my pa dink ons laai ander mense af.”

Aftershock, as iemand jou sou vra. Want toe raak jy verstrik in die blomme, ’n mens kon nie daarby verbykom nie. ’n Bra ontoeganklike rok.

“En ek het nie eens ’n bra aangehad nie …” bieg sy.

“Nóú sê jy my! Sien? Ek het dit nie eens agtergekom nie. Jou blêrrie pa was verniet bekommerd, ons was vroeg terug by die huis, hy’t nog nie geslaap nie.”

Toe moet jy met haar pa sit en gesels oor éérs armie of éérs universiteit en wat gaan jy met die res van jou lewe doen en van watter Poggenpoels is jy nou eintlik en watse werk doen jou pa en wie’s jou oupa?

“Terwyl ek net van jou wou afskeid neem by die deur …”

Die rok was steeds in die pad, haar pa het later begin hoes en die stoeplig aangesit.

“Kyk, ek’t die strik en chiffon-blomme afgetorring en die moue probeer invat,” sê sy.

In die hoop dat die rok nog bruikbaar sou wees? Toe nie, sy kan dit self sien.

“Ek sal dit seker maar nou finaal aan die Heilsleër moet skenk,” sug sy. “Laat ek liewer die ding uittrek.”

Wag, ek help jou, bied jy dadelik aan. Toe raak julle skoon nostalgies … Julle begin tango.

*Volgende maand: Tango tot jy lê.