Rubrieke - André le Roux

’n Geldige vraag

Maar vra nou een vraag, en jy kry twee teenvrae, sonder ’n antwoord. Sy vra: “Was dit miskien nodig om vir die kinders so ’n hoop videospeletjies te koop? En wie speel die meeste daarmee?”

Jy probéér nie eens antwoord nie. Jy sien net die deftige inkopiesakke van dikker plastiek as supermarksakke, met handelsname op en behoorlike handvatsels.

“Sien jy’t weer klere gekoop,” merk jy terloops op met ’n gelate sug in jou stem.

“Nie vir myself nie,” sê sy. “Vir die kinders.”

O.

“Is dit nie ’n paar nuwe skoene wat jy daar aanhet nie?” (Jy self het sokkies present gekry, en van naskeermiddel het jy ook genoeg gehad, dankie.)

“Het dit al twee jaar gelede gekoop,” sê sy. “Ek het dit nog vir jou aangepas saam met daardie bra van Victoria’s Secret. Jy’t seker vergeet of nie goed genoeg op die skoene gekonsentreer nie.”

O.

Só koop sy nuwe klere sonder om nuwe klere te koop. Dis hoekom als in haar klerekas altyd oud is. Of dit was op ’n uitverkoping, toe koop sy twee om geld te bespaar.

Vindingryk. Soos wanneer sy begroot vir ’n uitgawe van R500 – sê nou maar vir ’n nuwe gordyntjie – dan kos dit R400 en sy’t sowaar R100 gespaar!

Só sal sy julle nog ryk spaar. Jy reken julle kon daardie geld beter belê het. (Vroue doen inkopies, mans belê, het jy êrens gelees.) Sy dink ’n belegging is boring. Want daar is geen onmiddellike bevrediging nie – dis immers waarom ’n vrou inkopies doen, dan nie? En die R100 sal sy wel later op iets anders uitgee.

Jy’s meer op die praktyk ingestel, op nuttigheidswaarde. Daarom het jy vir jouself ’n elektriese boor gekoop.

“Bóóring,” sê sy. “Jy het dan reeds een! ’n Boor is tog ’n boor.” Jy probeer nie eens verduidelik dié een is koordloos en kragtiger nie, sy sal nie verstaan nie.

“En ’n paar skoene is tog ’n paar skoene?” vra jy.

Sy oorweeg dit om die vraag te ignoreer, maar kan nie: “Dis nou vir my so duidelik soos deurskynende glas. Mans verstaan net mooi niks.”

“Buitendien,” sê jy. “’n Man met een boor voel goed, met twee bore voel hy beter.”

Dis duidelik sy’t genoeg gehoor. Sy’t êrens gelees vroue koop weliswaar emosioneel, maar mans het hul eie terminologie ontwikkel om hul eie koopkragtigheid te regverdig: Hulle koop nie, hulle “versamel” (soos in wyn, sportmotors), of hulle “gradeer op” (soos in selfone, rekenaars, enigiets elektronies), of hulle glo in “waardevermeerdering” (breek die braaivleisplek af en bou ’n groter een of sit ’n pizza-oond in).

“En ons weet tog álle pizza-plekke lewer af,” sê sy.

“Ons weet tog ’n pizza-oond is enige tyd ’n belegging,” sê jy. Voornemende kopers sal na julle huis kom kyk en die vrou sal sê, ja, hier is ’n badkamer en kombuis, kom ons koop, maar die man sal sê: Hier’s dan nie ’n pizza-oond nie!

“Sien?” sê jy. “Ons sal nooit hierdie huis verkoop kry nie …”

Uit een van daardie deftige inkopiesakke haal sy iets. Dis so klein, jy sien dit amper nie raak nie: “Het vandag vir my ’n nuwe ietsie vir die somer gekoop,” verduidelik sy. En fluister: “Dis een van Victoria se geheime, wil jy sien?”

Kom dit saam met die skoene? wonder jy. Maar jy’t die teenwoordigheid van gees om nie te vra nie … Sy hét immers R100 gespaar op gordyne.