Rubrieke - André le Roux

‘n Man van agter

“In stywe jeans, dit doen net iets aan ’n vrou,” beaam sy terwyl ’n tinteling deur haar gaan. Jy oorweeg dit om om te draai, maar dan wonder jy: Is dit nou toevallig dat ’n man se beursie gewoonlik in sy agtersak sit?

“Veral met ’n voorskoot aan terwyl hy die skottelgoed was,” skimp sy.

Dis waaroor dit gaan. Huiswerk.

Onlangse navorsing in Brittanje het gewys 59% van mans word met ’n groot doofheid geslaan sodra hulle gevra word om in die huis te help, hulle hoor niks. En blykbaar, wanneer ’n vrou trou, kry sy ’n ekstra 7 uur se huiswerk per week by – natuurlik veroorsaak deur die man (seker los klere op die vloer en so). Die man,
daarenteen, het op sy beurt 1 uur per week minder huiswerk.

Maar dis nie asof jy nie probeer nie . . .

Dan sê sy: “Dis nie soos ’n mens ’n bed opmaak nie. ’n Mens trek nie net die duvet reg nie.” (As die duvet reggetrek is, is dit mos reggetrek en klaar, dis tog die gerief van duvets.)

“Gee hier daardie besem,” beveel sy. “Jy vee al die stof in die lug in op!” Jy was eintlik besig om die stof netjies in die hoeke in te vee . . .

En toe jy die kaggelrak afstof – jy stof versigtig tussen al die foto-raampies en potjies en goetertjies af om niks te versteur nie – sê sy jy moet eers alles afpak, dán afstof en weer terugpak. Dit klink vir jou na ’n omslagtige manier van werk, toe laat val jy per ongeluk ’n maer blompotjie met ’n tarentaalveer daarin en die veer fladder sowaar by die venster uit, nou’s dít ook ’n probleem.

“Sien jy nou?” vra jy gekrenk. Sy sê dit was ’n blompotjie met sentiment, los liewer, sy sal self verder afstof én terugpak.

Jy gaan sit maar êrens uit haar pad. Maar dis steurend om aanmekaar jou voete voor die TV te moet oplig terwyl sy heen en weer stofsuig (hier kom sy weer).

Jy’t al geleer, as jy haar wil help – uit pure manlike pligsbesef – moet jy wag tot sy in die winkels is. Wanneer sy terugkom en sien die hele sitkamer is opgeruim en netjies, is die eerste ding wat sy vra: “Het iets gebreek?”

Om dieselfde rede bly jy liewer weg van die wasmasjien.

Eenkeer het jy op jou knieë gegaan – party mans doen dit vir ’n vrou – om die kombuisvloer te was, toe keer sy: “Dis te veel seep, ons gaan gly! En vervat die lap, vervat die lap! Jy smeer net die vuiligheid in die vloer in.”

Sy vergeet: Jy’s die wandelende blikoopmaker in hierdie huis, die oopdraaier van potjies en flessies, die bringer van iets (soos sjokolade) van die kafee af terwyl jy net gou die koerant wou gaan koop, die uitsitter van vullis elke week (van die kombuis tot die drom tot die straat), die indraaier van skroewe, die gaan haler van
take-aways (die in die tou staner), die gaan betaler van die TV-lisensie, die insteller van die DVD-speler, die regmaker van muurproppe en die omruiler van gloeilampies, die verskuiwer van meubels (elke drie maande), die ophanger van portrette, die staner op stoele om goed by te kom wat te hoog is (“Staan nog, ek sien jou beursie!”), die wegjaer van muise, die gaan kyker elke aand of al die deure gesluit is, die opstaner in die nag vir geluide waar niks is, en soms, die sintuiglike suiger van tone . . .

Jy’s so geïnspireerd deur alles wat jy in die huis doen, jy’t dit self nie besef nie, jy gaan was sommer die skottelgoed ook. En oor jou skouer vra jy, jou hand skalks op jou beursie, regterboud:

“Ek gaan ’n voorskoot aansit. Kom jy kyk?”