amashova_091125510_dsc_0072
Rubrieke - André le Roux

Op die eetkamertafel

Jy’t nog altyd geweet julle het ’n eetkamertafel – jy’s net nie seker waar nie. As jy moes raai, sou jy sê hy staan in die eetkamer. Dis net dat jy hom nie kan sien nie.

Op ’n dag staan daar toe wel ’n tafel in die eetkamer. Pragtige blad van geelhout, jy wil hom sommer olie gee, blink vryf en mense oornooi.

“Waar kom die tafel in die eetkamer vandaan?” vra jy.

“Hoe bedoel Meneer dan nou?” vra sy.

Meneer bedoel daar staan ’n tafel in die eetkamer wat Meneer nie ken nie. En hoekom het Mevrou ’n tafel gekoop sonder om Meneer in die tafel te ken? Dis immers ’n groot tafel wat sekerlik ’n groot tafel se prys gekos het.

“Hallo, Tafel …” sê jy.

“Moenie vir jou laf hou nie! Ons het daai tafel al vandat ons getroud is.”

“Hoekom weet ek nie daarvan nie?” vra jy, maar jy herinner jou vaagweg julle het heel eerste ’n bed en toe later ’n tafel en ’n stoel gekoop. (Julle het beurte gemaak om op die stoel te sit en het op die bed geëet ook, tot tyd en wyl. Dit was baie romanties. Julle het mekaar gevoer en die springs het sulke spring-geluide gemaak.)

Jy’t vergeet van die tafel, want elke keer as jy verby die tafel loop, staan daar nog goed op die tafel. Nie gewone goed soos ’n vrugtebak met dennebolle in die middel nie.

Nee, daar’s hopies materiaal, stapeltjies boeke, tydskrifte, resep te uit tydskrifte, foto’s, ’n skêr onder ’n speldekussing (g’n wonder die skêr is altyd weg nie), ’n kersblaker, jou enigste Worsie Visser-CD, ’n TV-gids van toe Dallas nog gewys het, ’n sleutel sonder slot, ’n ou koerant en ’n stukkende skoen.

Só groei die dinge op die tafel aan dat jy later vanweë die bome nie meer die bos kan raaksien nie – of is dit nou andersom?

Julle eet en kuier gewoonlik om die kombuistafel, natuurlik dié dat jy die eetkamertafel nie so erg gemis het nie.

“Wat het jy met die goed op die tafel gedoen?” vra jy uit blote nuuskierige verbasing.

“Geskuif,” sê sy.

Klink vir jou na herstrukturering. Laat dit van geen vrou gesê word dat sy nie kan herstruktureer nie. Eers staan die goed hier, dan staan dit daar. Net nou die dag het sy gesê die huis raak te vol goed, toe gooi sy ’n leë tissue-boks weg. (Sy’t dit gehou omdat die prentjie daarop mooi was.)

Dié dat jy vir haar ’n kas mét rakke gemaak het, weliswaar regop gehou deur ’n besemstok. Jy erken dis soms ongemaklik as ’n mens per ongeluk teen die besemstok skop, want dan skuif die goed in die kas en jy moet hom weer regop druk.

Baie huislik. Al wat op die eetkamertafel oorgebly het, is ’n kleios van Koekenaap, ’n kettie van Kenia, ’n balie van Bali, ’n potjie room van Potchefstroom, moskonfyt van Montagu en ’n glasbak van Weylandts. Net dit, niks meer nie, en alles netjies in ’n groepie gerangskik.

En alles pas by niks. Hulle noem dit tablescaping, verduidelik sy.

O, die landskap van ons tafel! Dis deel van ’n nuwe, wêreldwye neiging, die geneigdheid om nes te skrop, jou huis met huislikheid te vul. En ’n goeie verskoning om jou aan sjokolade oor te gee, sou jy dink.

Maar sy’s die wêreldspan een voor, want dis nou al jare dat die goed in jul huis so in groepies rondstaan. En sy skuif dit rond van tafel na stoel na kaggelrak na vensterbank na bankie na bed in ’n poging om reg te pak. (“Herstrukturering, ek sê mos.”)

Op die bed in jul slaapkamer het ’n paar ekstra kussings bygekom en dit wil lyk of jy van die goed op die eetkamertafel nou op die bed herken. Is dit die skêr wat daar lê?

En hoekom is daar ’n hopie tydskrifte reg in die middel van die bed met uitgeknipte resepte en leë sjokoladepapiertjies? Bedscaping? (Die warmwatersak kan jy verstaan.) Sy sê sy sal die goed nog voor slaaptyd wegpak, jy kan mos sien sy’s besig.

Jy sê sy hoef rêrig nie eintlik te worrie nie: “As jy begin om die bed ook vol goed te pak, kan ons altyd op die eetkamertafel nesskrop, of hoe?”