srstockandre1
Rubrieke - André le Roux

André le Roux: ‘Kry so jou sin’

Dis wetenskaplik vasgestel daar bestaan inderdaad ’n soort vrou wat hulle, veral in Engeland, beskryf as: The nagging housewife.

Mmm, dink jy, ’n mens hoef nie ’n definisie vir die verskynsel te hê nie, jy hoef maar net te weet waar die woord vandaan kom. Toe nie van Engeland nie, maar van Skandinawië waar die woord nagga heel gepas beteken: om te knaag.

Aan ’n man se siel, ja! Tot hy maar liewer bes gee en doen wat hy gesê word om te doen. Só kry ’n vrou weer eens haar sin…

Vroue wat aan hul mans knaag, mors nie hul asem nie, volgens die (Engelse) navorsers, al voel dit partykeer so. Die navorsers sê ’n vrou moet net aanhou… (Die laaste stukkie raad verswyg jy, dis dalk nie op Suid-Afrikaanse toestande van toepassing nie.)

Die afleiding was dat ’n geknaag en ’n geneul en ’n ge-nag en ’n ge-moan en ’n ge-aanmekaar-dieselfde-storie ’n man geestelik uitput – kapoet – en dan is hy te moeg om weerstand te bied. Sy “mentale reserwes” is laag. Die navorsing is wêreldwyd uitgebrei onder die vaandel van “die wetenskap van oortuiging”.

“Onthou jy, ek het vir jou gesê daar het al weer ’n gloeilamp in die kombuis geblaas?” antwoord sy. “Jy’t seker net vergeet…” “Maar ek het net verlede maand die ding vervang!” sê jy oortuigend.

Hierdie maand redeneer jy: As sy lank genoeg oor die gloeilamp neul, maar jy ignoreer die geneul ewe lank, sal die gloeilamp vanself weggaan. (Dit sal nie.)

Die navorsers sê jy moenie aarsel wanneer jy iets vra nie, jy moet reguit sê, en jy moet hom in die oë kyk, hy moenie kans kry om te ontsnap nie. Nag him into submission! is die raad (jy verswyg dit ook). Net so moet jy nie met verkoopsmense redekawel wanneer jou eie reserwes laag is nie.

“Ek het vir jou die boksie met die nuwe gloeilamp – 100 W, bajonet – in die kombuis neergesit. Ek sê maar net …” Daardie boksie met die gloeilamp skuif elke dag al hoe nader aan die plek waar die gloeilamp geblaas het. Die navorsers sê ook jy moenie ’n hoop redes gee hoekom iemand iets moet doen nie. Een groot rede is beter as tien kleintjies.

“Ek kan nie in die kombuis sien nie, ek loop nou al vir dae in goed vas!” sê sy. “Ek het vir jou ’n stoel daar neergesit. Vir die gloeilamp, onthou?” Die blêrrie gloeilamp! Toe klim jy maar weer op die stoel… Sy vat ewe die stukkende gloeilamp by jou aan en sê vir die kat: “’n Wéék later! En was dit
nou so moeilik?”

Die kat kom dra die boodskap oor: “’n Week later, Kater, ’n week later!” Jy ignoreer die kat soos ’n gloeilamp. Sy sê: “Jy weet, ek het eenkeer gelees mans is ook geneig om so te knaag. Ek onthou nog die een sinnetjie, want dit was so goed geskryf: The husbands’ nagging usually involves finding fault with their dinner, with the household bills, with the children, and with everything else. (Wikipedia.) Ek hou veral van daardie laaste stukkie, dis so mooi oortuigend gestel: and with everything else.”

Seker in Skandinawië, dink jy, maar jy het ’n vae vermoede sy’t weer haar sin gekry… Nagga?