Rubrieke - André le Roux

Op die vrou af: Los jou hare uit!

Mans het nie ’n probleem met Die pixie, Die Marilyn, Die Farrah, Die Rachel of Die Kate nie. Hulle weet nie eens wat dit is nie . . .

Kyk op bl. 69 – 73 van hierdie SARIE. Daar’s hulle almal. Tot Die bob – nie ’n man se naam nie, nè? Solank sy nie dink sy gaan skielik soos Twiggy met haar pixie lyk nie. (Waar sit ’n vrou se pixie?) Of soos Marilyn Monroe, Farrah Fawcett, Jennifer Aniston van Rachel Green-faam in Friends en Kate Moss.

Sy kan maar so lyk as sy wil, mans het daarmee ook nie ’n probleem nie. Waarmee mans wel ’n probleem het, is wanneer ’n vrou haar hare wil afsny.

Moenie.

Los.

Dit pla niemand nie!

(Behalwe natuurlik vir haar, minstens een keer per maand of meer. Sy wil net was-en-laat-los, nie sukkel nie.)

“Ek’s moeg gesukkel. Ek weet nie meer wat om met my hare aan te vang nie,” sê sy, hande in die hare. “Kyk hoe staan dit!”

Vir jou lyk dit of haar hare lê, nie staan nie. En dit val mooi oor haar skouers en langs haar gesig, sy lyk soos ’n geraamde portret.

“Moet niks aanvang nie,” waag jy dit. “Daar’s niks verkeerd met jou hare nie, hou dit net so.”

Dan gaan sny sy dit . . . en kom kla by jou as iets onder die haarkapperskêr skeefgeloop het, wat maklik kan gebeur. Sy wil haar hare uit haar kop trek.

“Kyk hoe lyk dit hier agter, dis glad nie soos ek gesê het dit moet lyk nie!” Dis nie nou ’n goeie tyd om vir haar te sê ek het jou mos gesê nie . . .

Die ding is: Mans hou van lang hare.

Punt.

Aanvaar dit.

Kort hare is miskien tjirpie, maar lang hare is net soveel mooier om na te kyk, aan te vat en te ruik. (Ruik lang hare  anders as kort hare? Miskien verbeel mans hulle dit net omdat daar meer daarvan is.)

Kyk nou weer na al daardie style van bl. 69 – 73. Watter styl is die mooiste?

Jy antwoord sommer self.

“Al daardie vroue is mooi,” verduidelik jy. (Behalwe die een wat soos Clint Eastwood se perd lyk.) “So hul gesigte gaan nie jou keuse beïnvloed nie. Die enigste veranderlike is hul haarstyl, dus kan jy onbevooroordeeld kies.”

En die keuse is tog duidelik: Dis die lang hare.

Jy kan haar onmiddellik minstens vyf goeie redes gee waarom mans van lang hare ou, buiten die kyk, vat en ruik:

1 Wanneer sy, pas uit die stort, so vooroor staan om haar hare droog te blaas. Dit lyk soos hangende tuine, mooi van alle kante (haar hare ook). ’n Mens kan dit nie met kort hare doen nie.

2 Wanneer die wind haar hare skep en dit vaartbelyn laat lyk.

3 Wanneer sy die hare uit haar gesig vee (nadat die wind dit vaartbelyn geskep het).

4 En lang hare pas boonop pragtig by ’n kaal skouer . . . (bl. 69).“Onthou ook,” sê jy met die insig van ’n hare-man, “lang hare – nes vol lippe en groot oë – is die  toonbeeld van jeugdigheid.” As dit nou nie genoeg rede is vir ’n vrou om haar hare lank te dra nie.

Maar die heel grootste rede, nommer 5: Lang hare in die aand – en in die môre – laat enige kussing net soveel mooier lyk . . .

So strelend, Pixie.

  • http://kmuyvgcrqadk.com/ hzbijzv

    NCT5c5 ayvujdfjfxqz, [url=http://ngoenuziecog.com/]ngoenuziecog[/url], [link=http://zckymtqiggrk.com/]zckymtqiggrk[/link], http://maohgmfgzzis.com/