Rubrieke - André le Roux

Op die vrou af: Kersfees en tafeldekkery

“Kyk hoe mooi lyk die tafel!” Dis die ding van enige ete, selfs belangriker as die spyskaart: Die tafel moet mooi lyk nog voor die borde en messegoed bykom. Dit verg besinning en beplanning. Daarom blaai sy deur al wat ’n tydskrif is (kyk byvoorbeeld op bladsy 91 van hierdie SARIE, nè?) en sy kyk watter versierings sy als in haar kas het, en koop ’n paar onweerstaanbares by. Sy raadpleeg ook die internet, wat ongelukkig nie veel help nie, want waar begin jy as table decorations miljoene webblaaie oplewer? Jy’t nie eens geweet daar is soveel tafels in die wêreld nie.

Vir jou klink so ’n tafeldekkery na te veel moeite, vir haar is dit deel van ’n fees. Sy’t selfs vanmôre vroeër opgestaan omdat sy weet hoeveel tyd dit vat om ’n tafel nét reg te kry.
Kerse en kristalle, linte en laventel, sade en silwer, servette netjies gevou en elke plekmatjie op sy plek. En blomme, blomme is altyd deel van die tafelversierings. En daar moet verkieslik ’n tema wees, sê nou maar Bosveld of see, Pretoria of Potchefstroom. Jy sou eerder hopies Smarties neergesit het in die plek van daardie spoelklippies, dan kan ’n mens dit agterna eet, maar jy meng nie in nie. Jy skuif net nou en dan die swaar blompot heen en weer soos sy vra. Heen en weer en weer. Kleur is ewe belangrik. ’n Vaal tafel gaan die kos immers vaal laat smaak. “Is Krismis se kleure nie gewoonlik groen en rooi of wit nie?” vra jy. “Of is dit vanjaar ’n blou Krismis?” Maar jy meng nie in nie.

Nee, dis vanjaar ’n vanielje Krismis, met room en goud daarby, ’n mens kan dit amper eet. Die goud sal pas by die sjokolade agterna, en die vanielje en room by die vla en poeding. Dit maak als sin. Die belangrikste: ’n fokuspunt in die middel, ’n sentrale kern as’t ware, die hart van die tafel. Daardie middelpunt trek dadelik jou aandag en vandaar “sprei” jou oog na die kante toe sodat die hele tafel een lang, aanvallige prentjie vorm. Siedaar! (Die tafel is geduldig en voel ewe sexy so met al die mooi goed op sy rug, as iemand hom sou vra.)

Die beste van als is: Mans sien dit ook raak, hulle kan dit nie miskyk nie. Dis immers jý wat hierbo gesê het: “Kyk hoe mooi lyk die tafel!” “Steek jy solank die kerse aan en moet niks omstamp nie,” beveel sy. Daardie kerse is selfs belangriker as die sjampanje. Elke gas kry sy eie kers. “Ek dink net ons moet miskien die blompot …” sê sy. Met die blompot uiteindelik tuis waar hy moet wees (jy meng nie in nie), kan die hele mensdom maar kom, want dít weet elke vrou met ’n keurig gedekte tafel: Nou is sy reg vir die wêreld! En só, met mense saam om ’n mooi tafel, is die wêreld skielik ’n beter plek …

Wanneer mense feestelik rondom ’n tafel kuier, weet elke vrou: Daardie tafel moet mooi wees.