boomrok_006_rs
Rubrieke - André le Roux

Pakplek

Dis ’n regte refrein in enige huwelik of verhouding wat langer as drie dae duur.
“Hier’s nie genoeg pakplek in hierdie huis nie.” (Die ander een is: Hier’s nie genoeg neersitplek in die kombuis nie.)
Dink g’n vrou dan ooit daaraan dat daar dalk nie te min pakplek of neersitplek in hierdie huis is nie, maar te veel goed?
Jy’t al so genoeg gehad daarvan, jy sê wys my ’n oop muur en ek bou nóú vir jou ’n kas in. Mét rakke. Jy kan maar sê dit sal ’n kas uit die boonste rakke wees.
Jy meet die muur en gaan koop die hout.
“Dink jy nie liewer ons moet iemand inkry wat …”
Jy sien dwarsdeur die muur wat sy dink: Iemand wat weet hoe om ’n kas in te bou. Ja! en dan vra hulle jou ’n huis se prys vir ’n kas terwyl jy dit self feitlik verniet kan maak. Hoe moeilik kan dit nou wees om ’n paar planke aan mekaar te slaan?
Daar’s onmiddellik ’n meetbare oponthoud toe sy aandui hoe ver die rakke uit mekaar moet kom. Sy meet eers – presiés! – om nie onnodig ruimte te vermors nie.
Die onderste rak wil sy hê vir bokse, soos ontbyt graanbokse (26,8 cm hoog) en so aan. Die rak bokant die onderste rak is vir blikkieskos soos ertjies (’n netjiese 11 cm) en so aan. Die rak bókant die rak bokant die onderste rak is vir papierhanddoeke (27,2 cm, so moenie die mini-soort koop nie), tissue-bokse (9,1 cm) en so aan. (Sy beplan om drie tissue-bokse bo-op mekaar te sit, dan kom dit min of meer op dieselfde hoogte uit as die papierhanddoeke.) En hier, op ooghoogte bokant die rak bókant die rak bokant die onderste rak, moet ’n rakkie kom waarin die fish paste (Anchovette, 7,9 cm) en Marmite (9,8 cm) in gelid kan staan. Dit moet so ’n fraai, klein, vlak, fieniekie rakkie wees waarin sy sommer ook die tamatiepuree-blikkies (3,9 cm) soos dwergies kan aanhou.
Hoe gaan sy haar hand daar ingesteek kry? Jy vermoed sy het eintlik ’n rakkie vir die Bar One’s (1,8 cm) in gedagte, langs die Whole Nut’s (1,4 cm), ook bo-op mekaar.
As die vervaardigers nou hul bokse of blikkies met net ’n halwe sentimeter groter maak, as ’n Whole Nut môre, oormôre skielik ekstra neute kry, gaan dit dié rakke darem
erg deurmekaar krap, maar jy sê niks.
Daar’s weer ’n effense oponthoud (niemand het jou gesê dit vat so lank om ’n kas te bou nie) toe jy die een plank te kort saag. Jy moet ’n ander plank gaan koop, maar gelukkig kan jy die plank wat te kort skiet vir een van die kas se regop sye gebruik, al beteken dit steeds jy gaan ’n plank oorhê.
Die deure is op sigself ’n oponthoud. Die skarniere skarnier elkeen in sy eie rigting – die deure vibreer net as jy dit probeer oop- of toemaak. Maar wat, jy sien dadelik waar die probleem lê en uiteindelik beleef jy die selftevrede terugstaan om jou eie handewerk te aanskou.
Daar staan hy. ’n Kas in lewende lywe. Met pakplek vir ’n leeftyd.
“Die Marmite pas te styf,” sê sy. “Dit wil omtrent nie in die rak in nie.”
Dis jy wat gemeet het, sê jy. Sy gaan haal die maatband en wys jou daarop dat die rakspasie links 12 cm is en regs is dit 9,7 cm – terwyl die Marmite-potjie 9,8 cm is, onthou?
Dis hoekom die rak ook skeef lýk, sê sy.
“Sit dan die Marmite links,” stel jy voor. Jy sien dwarsdeur die kas wat sy dink: Erken nou maar die rak is skeef, dink sy.
Jy bekyk die saak. Ál die dêm rakke is regs laer as links!
Jy verstaan nie hoe dit gebeur het nie. Dis omdat vroue in sentimeters meet en mans in millimeters.
“En, e…” hou sy haar kop skuins dié kant toe, skuins dáái kant toe. “Dit lyk my die héle kas hang effe skeef.” As ek my nie misgis nie, voeg sy ewe by.
Jy gaan haal die waterpas. Mmm, nogal …
“Maar dít,” sê jy, “is nie ’n probleem nie. Ons hou hom regop met ’n besemstok!”
Jy plak net daar ’n skewe rooi hart, oorgebly van Valentynsdag, op die een deur. Behóórlik skeef, sodat sy kan sien dit was juis die bedoeling. En dis tog die bedoeling wat tel, dan nie?
(Verbeel jou, sê sy skuinsweg vir die Marmite-potjie, hou hom regop met ’n besemstok …)