Rubrieke - André le Roux

Soos heuning vir bye

Dis ’n variasie op daardie ander vraag: Het jy my nog lief? Want wat sy eintlik wil weet, is of jy nog steeds aangetrokke voel tot haar, of sy nie dalk haar  aantrekkingskrag verloor het nie, en wat dán?

Jy probeer onthou wat dit was, want netnou antwoord jy verkeerd. (As die vraag hoegenaamd ’n regte antwoord het.) Was dit haar rooi rok, die wikkel in haar wegstap, daardie swiep van haar heupe, die sweempie parfuum, die tong oor haar vol lippe of die heuning in haar oë? Dalk haar glimlag?

Jy vermoed dis iets van als.

Jy onthou julle het in die verste hoeke van mekaar af gestaan, toe waai jy. Sy’t opgekyk en skamerig geglimlag. Jy’t eintlik vir die blondine agter haar gewaai,
maar toemaar, sy’s die een wat skamerig teruggeglimlag het, toe sien jy haar raak.

“Toe ek eers jou glimlag sien, toe’s dit verby, Dolly, toe stap ek nader en sê hallo.” (Die blondine het nie eens omgekyk nie.) “En van naby was jy nog ouliker as
van ver. Toe draai jy om en stap weg.”

Jy moet erken, daardie wegstap . . .

“Ek moes sowaar agter jou aanloop en jou op die skouer tik en vra of jy dan nie gehóór het ek sê hallo nie.”

“Ek’t net gemaak of ek nie gehoor het nie,” bieg sy. “Want ek wou kyk of jy agter my sal aanloop.” Dis iets waarvan ’n vrou vroeg al moet seker wees, anders help
dit niks. (Jy loop nou nog agter haar aan, van supermark tot klerewinkel tot …)

Nou sê wetenskaplikes hulle het vasgestel wat dit is wat mense na mekaar toe aantrek, hoekom A deur B aangetrek word en nie deur C nie, C deur E, F deur G en
Steve H deur die res van die alfabet.

Die antwoord: Dit word geneties bepaal, dit lê diep binne-in jou DNS.

“Jou DNS?” vra sy. “Hoe onromanties!”

Jy sien wat sy dink: Wat dan van al die moeite voor die spieël, die rooi rok, die parfuum, die wegstap? En weet jy hoeveel het hierdie skoene gekos?

Jy sê dit gaan nie oor die skoene nie, dit gaan oor die kinders. Sy frons ’n vraag.

“Sien, mense met uiteenlopende gene word na mekaar toe aangetrek om inteelt te vermy en so te sorg dat hul kinders ’n sterker immuunstelsel het.” Dis glad nie so kompleks nie, hulle noem dit die major histocompatibility complex (MHC).

En ons ly almal daaraan? vra sy kamma.

Dit werk glo ook so by muise en visse. (Jy kan nog dink dat muise aangetrokke tot mekaar sal voel, hulle is so oulik, maar visse? Daar’s tog baie visse in die see …)

Dalk kan jy ’n vrou verlei met iets soos: “Haai, wys my jou DNS, dan wys ek jou myne. A! kyk net, ons gene verskil hemelsbreed, kom ons vry en kry kinders met ’n goeie immuunstelsel om infeksies te bestry.”

“Watter vrou gaan val vir kinders en infeksies as julle mekaar so pas ontmoet het, hè?” vra sy.

Dit werk onbewustelik, verduidelik jy, en dis nou wetenskaplik bewys: Teenoorgesteldes trek mekaar aan. (“Kom ons trek mekaar liewer uit,” stel jy voor, “dan
bewys ons die wetenskap verkeerd.”)

“Jy’t nog nie my vraag beantwoord nie,” is al wat sy sê.

“Watse vraag?”

“Wat het jou na my toe aangetrek?”

O.

Dis eintlik maklik: “Jy was soos ’n magneet. Soos heuning vir bye. Soos blomme vir die lente. Soos die maan vir golwe. En Rice Krispies vir melk.”

(Jy kan tog nie sê dit was eintlik die blondine agter haar nie …)

  • Rochelle

    My verloofde het hierdie artikel tydens ‘n, volgens hom, vervelige besoek aan sy ouers, perongeluk raak gelees en begin skaterlag. Toe ek hom vra waaroor hy lag erken hy dat hierdie skrywer op ons moes "spy" aangesien dit net soos ek en hy byna elke aand klink aangesien ons ‘n soortgelyke gesprek gehad het oor wat hom aangetrokke tot my gemaak het. Baie dankie vir ‘n oulike artikel. Ek studeer tans onderwys by die Universiteit van Johannesburg en het dieselfde artikel sommer vir ‘n Afrikaanse Taalkunde opdrag gebruik omdat ek dit so baie geniet het.