Rubrieke - André le Roux

Spa

“A!” sê sy. “Nou kan ek in jou plek gaan, jy sal tog nooit so iets doen nie. Ek sien al hoe lyk jy met ’n gesigmasker.” En histeries lag sy.

Jy lag nie. Die prys is nie oordraagbaar nie, sê jy. “Buitendien, dis tyd dat ek in voeling kom met my vroulike kant.” Sy sluk haar lag in.

“Jy’s nie ernstig nie!”

Jy is. Jy wonder al lank oor daardie full body massage waarvan vroue so praat …

Maar toe jy by daardie spa inloop, wil jy omdraai en hol. Wat as een van jou vriende jou nóú sien? Te laat. ’n Vrou met ’n oorjassie het jou reeds aan die arm beet en sy neem jou na so ’n klein kamertjie. Net nie ’n Brazilian wax nie! pleit jy.

Julle stap tussen roosblare en takkies laventel deur en oral speel sagte musiek wat onderwater klink. Wit handdoeke en pienk rome en botteltjies vol gekleurde olies en goeters, sagte lig. Die vrou sê jy moet jou klere uittrek en lê, sy’s nou terug.

Hè? Sommer net so?!

Daar’s ’n smal bed wat lyk soos ’n operasietafel met ’n opgerolde handdoek aan die koppenent. Daar’s óral handdoeke. Jy trek jou klere uit en steek vas by jou onderbroek. Het sy nou bedoel dié ook … nottendêm! Jy hou jou onderbroek aan en klim op die bed. Jy wag. Niks gebeur nie. Om jou is masjientjies en nog botteltjies en die onderwater-musiek, dit klink soos Enya.

Het daai vrou ’n sweep gaan haal?

Skielik staan sy langs jou en jy maak vinnig jou oë toe (jy wil nie by wees as hier nou iets verkeerd loop nie). Die vrou sê draai op jou maag. Jy val amper van die bed af.

Nou gaan sy jou seker vol modder uit die Dooie See smeer. Maar jy hoor hoe sy rome uit potjies skep en dan begin sy (oeps, dis koud!) jou rug en nek masseer. Lekker sterk hale en jy begin ontspanne spin, veral toe sy ’n paar knobbels in jou skouer sommer by die venster uit vryf. Heeltyd skuif sy ’n groot wit handdoek oor jou lyf om als toe te hou, baie kuis.

Luister net: “The Sweet and Savoury Body Scrub is used to sensorily polish the body. Relax in a precious Milk Bath while your body is blissfully massaged by hydro and thermal jets. Luxurious traditional Indian Oils are then used to perform a deep, cosy massage, while tranquil music harmonise the rhythm. Ending your journey with a Sublime Body wrap, silky and soft like a rice leaf.”

Dit klink of ’n mens dit kan eet.

Dan pak sy warm klippe in ’n ry op jou ruggraat. Dis glo spesiale klippe ingevoer van ’n eksotiese bestemming, maar jy dink hulle het dit sommer in die Bergrivier opgetel en net blink gevryf.

Toe sê sy: “Draai op jou rug.” Die handdoek kom saam en jy lê gemaklik agteroor vir die eerste facial in jou veelbewoë lewe en jy hoop niemand neem foto’s terwyl jou oë toe is nie. Sy begin rome smeer, kopvel invryf, slape masseer, wange wikkel.

“Help! Die plek brand!” roep jy toe jy skielik bewus word van ’n dik walm rook in jou gesig.

O, dis net stoom uit ’n masjientjie om jou vel sag en skoon te maak. Jy ontspan weer.

“Help! Ek’s blind!” roep jy, want skielik is dit stikdonker. Sy sê dis net gedoopte wattepluisies wat sy op jou oë gesit het. (Solank dit nie komkommerskyfies is nie, dink jy, jy’t dit al in tydskrifte gesien en dit lyk spokerig.)

Daar’s ook korrelrige goed vir afskilfering. Jy’t gedog jy’s dikvellig, sê nou jou vel word dun? Maar dan kom die ontspannendste, die soetste, die saligste. ’n Pedikuur terwyl die vrou jou tone langer as ’n uur met rome masseer. Aaaa …

“Hoe was dit?” vra sy opgewonde-nuuskierig toe jy by die huis kom.

“Ek weet nie eintlik nie,” sê jy, “ek het aan die slaap geraak.”