Rubrieke - André le Roux

Tweezer

Jy hoor die vreemdste geluide: “Tsjik, sjoe, ôi-ôi, outsj, ouha en eish.” Dit gaan oor in woorde soos goeiste, flippit, deksels, demmit en hét jou!

Jy loer om die deur. Sy’t trane in haar oë . . .

Sy pluk haar wenkbroue.

Het jy al ooit ‘n man hoor sê: “Wow, het jy daai vrou se mooi wenkbroue gesien?”

Jy sal ook nie, want mans is glad nie gebodder met wenkbroue nie.

Uitgepluk of afgewaks. Alle vroue doen dit, een of ander tyd, en as hulle eers daarmee begin het, hou dit hulle ‘n leeftyd besig. Selfpyniging, dan sien jy dit nie
eens raak nie.

Jy vermoed hulle doen dit omdat dit dáár is. En omdat dit iets is wat vroue maar doen – omdat vroue dit doen.

Hulle vorm daardie wenkbroue fyntjies met waks of ‘n tweezer – twiek-twiek. Daar’s meer wenkbrou aan die binnehoeke van die oogbank, dit volg die kontoere van haar neus perfek, met al hoe minder na die uithoeke, waar dit gewoonlik met ‘n effense bogie doodloop in ‘n strepie.

Op dié manier lyk vroue se wenkbroue uiteindelik presies dieselfde, kyk maar volgende keer, jy sal sien. (Baie individualisties, as hulle jou sou vra.)

Dan sit hulle nog ‘n bietjie kleur by, vir die wis en die onwis en definisie, en voel baie opgepluk met hulself.

“Is dit werklik nodig?” vra jy versigtig. “Kyk, dit lyk nou asof jou een oog hoër sit as die ander een.” (Of die ander een sit laer, hang af van watter kant ‘n mens daarna kyk, nè?)

Skeefgeplukte wenkbroue kan enige vrou soos ‘n spotprent laat lyk.

“Wie’t jou gevra?” vra sy en hou haar tweezer – twiek-twiek – soos ‘n wapentjie op, dit lyk asof sy jou stertvere gaan pluk. (Jy knyp instinktief jou knieë toe.)

Sy’t glad nie ooghare vir wispelturige wenkbroue nie. Dis nou ook nie dat sy ‘n “aktiewe” plukker is nie, verduidelik sy, dis net om haar wenkbroue “in toom” te
hou, anders voel sy nie “afgerond” nie.

Want wenkbroue tel vir vroue onder “ongewenste hare” (waarvan hulle baie het).

En jy moet in gedagte hou ‘n vrou se wenkbroue – nog meer as haar hare – is ‘n raampie vir haar gesig. Dis hoekom ‘n man net bewus raak van ‘n vrou se wenkbroue as dit nié meer daar is nie, want dan’s die raampie weg en haar gesig sit in die oopte soos die maan.

Of hulle trek ál hul wenkbrou-hare uit en teken dit weer in met ‘n potlood, dit maak nie vir jou sin nie: Pamela Anderson.

Dis hoekom mans nooit vir Pamela Anderson in die oë kan kyk nie – sy’t net sulke potloodstrepies vir wenkbroue en dit sit mans af, hulle kyk dadelik ondertoe.

Brooke Shields, kom terug, jou wenkbroue is jou vergewe!

“En onthou jy vir Frida Kahlo?” vra jy. “Baie sexy, al moes ‘n mens haar wenkbroue boontoe omblaai om haar oë te sien.”

“Wenkbrousels, as jy my vra . . .” sê sy ietwat soet, heelwat bitter. Selfs Brooke Shields pluk deesdae haar wenkbroue. (Is dít toe al die tyd wat tussen haar en haar Calvin Klein-jeans gekom het? wonder jy.)

Mans, daarenteen, aanvaar hul wenkbroue soos dit is anders loop die sweet in hul oë. Dis hoekom mans dit so maklik het: As jy jou oë uitvee en jy voel hier’s ‘n haar wat uitstaan bo die res, pluk jy dit net daar uit tussen duim en voorvinger, los die res, en gaan aan met jou lewe.

Só loer jy om die deur – wild, woes, welig en wonderful, nè?

Met net jou wenkbroue aan . . .

* Volgende maand: Wenke vir wenkbroue, jy sal jou oë nie glo nie . . .