Rubrieke - André le Roux

Vir wie trek jy aan?

Sy sal nog toegee sy loer skelmpies of openlik in ander vroue se inkopietrollies, of dat sy in die motor eet en onnodige goed opgaar en dalk, net dalk, dat sy goed koop wat sy nie rêrig nodig het nie. En onder uitsonderlike omstandighede sal sy dalk, net dalk, ook erken daardie T-hemp was nié op ’n uitverkoping nie. (Sy’t wel gedínk dis op ’n uitverkoping, maar toe sy by die betaalpunt kom, toe sien sy dis nie, maar toe’s sy klaar by die betaalpunt, toe betaal sy maar – en gaan haal nog een, want sê nou dit beland op ’n uitverkoping en sy mis dit?)

Maar daardie één ding sal sy nooit erken nie: Dat sy aantrek vir ander vroue (en jy’t gedink dis vir jou?)

Vir die eerste keer begin jy daardie besluiteloosheid voor die klerekas verstaan. Sy weet nie wat om aan te trek nie omdat sy nie kan besluit nie – maar terselfdertyd probeer sy voorsien wat ’n ander vrou gaan aantrek. Dat sy haar een voor kan wees.

“Ék vir ander vroue aantrek? Nee,” sê sy.

Sien, daar ontken sy dit …

“Dis omdat dit nie wáár is nie!” verduidelik sy. “Ek trek volgens my bui aan. Ek steur my nie aan wat ander vroue aantrek nie. Ek trek vir mysélf aan. Waarvoor ek lus is. Waarin ek gemaklik voel.” Jy voel sy protesteer nou te veel.

“Hoekom vra jy dan altyd vir my hoe jy lyk as ons uitgaan?”

Sy sal miskien nog vir ’n man aantrek, gee sy toe, dalk, maar beslis nie vir ander vroue nie. Dink ’n bietjie daaroor, stel jy voor. Sy sê sy hoef nie daaroor te dink nie, want sy weet klaar dis nie so nie.

“Ek praat nie van wat jy elke dag werk toe aantrek nie. Dit ook, maar ek praat eintlik van uitgaanklere.”

Sy dink ’n bietjie daaroor en sê dan daar is dalk vroue wat vir ander vroue aantrek, maar sy’s nie een van hulle nie. As jy dan haar gedagtestroom kon hoor, sou dit dalk só klink (julle is op pad na ’n skemeronthaal-affêre, en die vroue gaan mooi aantrek):

Ek-wonder-of-daardie-erge-blondekopvrou-van-die-baas-ook-daar-gaan-wees-sy-dra-mos-net-hierdie-klein-swart-nommertjies-met-’n-lae-hals-en-dan-leun-sy-so-

vooroor-as-sy-met-’n-man-praat-dit-lyk-asof-sy-aan-sy-lippe-wil-hang-en-nes-die-duiwel-dra-sy-Prada-dink-sy-miskien-sy-is-Meryl-Streep-ek-sal-haar-dié-keer-

troef-met-my-eie-swart-nommertjie-wat-tot-heel-bo-toe-is-maar-waarvan-die-rug-so-laag-gesny-is-ek-kan-dit-partykeer-self-nie-glo-nie-dan-sal-ek-heelaand-

met-my-rug-na-haar-toe-staan-en-net-nou-en-dan-omkyk-en-vir-haar-glimlag-in-my-Manolo-Blahnik-sandale-en-’n-push-up-bra-van-La-Perla-waarvan-die-

slanke-skouerbandjies-uitsteek-háár-skouerbandjies-hang-saam-met-’n-paar-ander-goed-as-jy-my-sou-vra.

“Hoe lyk ek nou?” vra sy.

“Jou strêps steek uit,” sê jy. Moet so wees, sê sy, dis so ontwerp. Sy gaan beslis nie by enige ander vrou afsteek nie. Uitsteek, maar nie afsteek nie. Dis immers nie net mans wat mededingend is nie.

Ding vroue met ander vroue mee of met ander mans? wonder jy, maar jy vra liewer nie. Wat jy wel weet, is vroue steur hulle nie eintlik aan wat mans aantrek nie, solank hulle aangetrek is vir die geleentheid. (Hoewel ’n netjiese pak en das, veral as die man lank is, ’n vrou twee keer sal laat kyk, nè? En selfs een keer sal laat luister wat hy te sê het.)

Kommentaar op ander vroue se klere is daar wel. Dit wissel: Die kleur pas haar glad nie. Jy kry my nie dood in daardie langbroek nie. Sy’t nie die bene vir daardie romp nie, en valle is tog so laas jaar … Het sy nie in die spieël gekyk voor sy by die huis weg is nie?

Ai, die heelaand se gerondstaan op Manolo Blahnik het haar voete moeg gemaak, sê sy.

“Nou hoekom sit jy weer die lig aan?” vra jy. “Jy’t dit so pas afgesit.”

“Jy kýk nie eens nie. Vir wie dink jy het ek dié nuwe somerpajamas van Versace aangetrek?”

O.

Toe kyk jy.