srstockandre1
Rubrieke - André le Roux

Wenke vir wenkbroue

“Jy vat nie aan my tweezer nie!” keer sy dadelik. ’n Vrou en haar tweezer is immers nie so maklik te skei nie.

Oukei, sê jy. En niks meer nie.

Dit moet jy nooit aan ’n vrou doen nie . . . begin met ’n storie en dan sê jy oukei. En niks meer nie.

Tot sy dit nie meer kan hou nie, dan vra sy: “Wat wou jy sê?” Sy móét weet.

“Maar jy’t dan gesê ek mag nie aan jou tweezer vat nie, toe los ek dit.”

“Dis nie wat ek bedoel het nie. Sê nou! Hoekom kan ek maar my tweezer weggooi?”

“Want wenkbroue is terug!” sê jy. “Dis weer mode.”

“Van wanneer af, miskien?” vra sy en lig haar wenkbroue (of wat daarvan oor is).

“Van 13 Augustus verlede jaar af, om presies te wees. Dit staan daar in die Los Angeles Times. Die opskrif sê duidelik: Bushy eyebrows are back.”

Kyk maar na Keira Knightley en die Amerikaanse model-van-die-oomblik, Hilary Rhoda. Ook op die loopplanke van Prada en Donna Karan is wenkbroue groot, man, gróót. Letterlik. (Hie-hie, net toe Brooke Shields haar wenkbroue begin pluk, verander hulle die mode.)

Eers was daar niks verkeerd met vroue se wenkbroue nie, toe kom die Egiptenare (jy’s seker Cleopatra het die hele ding begin) en vroue begin pluk wild en wakker om hul wenkbroue meer vaartbelyn te maak.

Nou’s ons terug by die Wilde Weste en sy laat sak haar tweezer soos ’n klein swaardjie voor haar bors.

“Soos Ugly Betty?” vra sy. “Hoekom dink jy is dit haar naam?”

Jy sê miskien is dit oor haar tande, nie haar wenkbroue nie, wat nogals prominent is.

“Haar tande of haar wenkbroue?”

Jy wil nou nie verkeerd antwoord nie . . . ’n Vrou is tog soveel meer as haar wenkbroue, sou jy dink.

Solank jy net nie praat van “welige” wenkbroue in Afrikaans nie. “Ruig” is nog erger, sy wil nie soos ’n grotvrou lyk nie, sukkel al klaar so met haar beenhare. En “beboste” wenkbroue is heeltemal uit. Sê eerder “voller” wenkbroue, soos in die “voller” figuur? Sy wil tog nie wenkbroue hê wat haar vet laat voel nie . . .

Jy sê as sy nou haar wenkbroue . . . e . . . voller hou, ongerep en ongepluk, kan sy die nuwe neiging plaaslik begin, sy sal die eerste in SA wees. Sy weet tog hoe
lank dit vat om daardie haartjies een vir een te . . . termineer. Daarom doen vroue dit verkieslik as ’n man nie kyk nie, want hy sal een of ander tyd sê: Hou tog nou op, ons is klaar laat.

“As jy nou nie meer jou wenkbroue pluk nie kan jy dit net jel, dan kam jy dit soos jy jou hare kam,” stel jy voor. “In een go, dit bespaar baie tyd, jy sal nooit weer laat wees nie.”

Dis ’n wenk.

Jy kan sien sy begin twyfel oor haar wenkbroue. Skielik sit sy met die Shakespeariaanse vraag: Om te pluk of nie te pluk nie?

“Jy weet natuurlik?” sê-vra jy, “daar’s ’n veel makliker manier om van ongewenste wenkbroue ontslae te raak.” Weerbarstig, wispelturig of sommer net vol draadwerk.

Jy kan dadelik sien sy weet nie.

Hoe? wil sy weet. Sê!

Jy sê jy’s moeg, kom ons gaan slaap liewer, dan sê ek jou later . . .

Jy kan dit ook nie aan ’n vrou doen nie! Jy sien klaar wat kom: Jy gaan slaap alleen, sy gaan pluk haar wenkbroue.

“Oukei, oukei,” keer jy, “ ek sal sê . . .”

*Volgende maand: Die veel makliker manier . . . jy sal seer aangenaam verras wees.

**André le Roux se jongste versameling rubrieke, Op die vrou af 2, het pas by Human & Rousseau (R155) verskyn. Lees ‘n resensie van die boek op SARIE se webblad.