Rubrieke – Koos van der Merwe

AUGUSTUS-GEDAGTE 2005

Dis hoekom jy baie betaal sal word as jy dit het, en selfs die Nobelprys daarvoor kan wen.

Alle navorsers soek daarna, en daarsonder voel mense verward, onveilig, selfs dom en minderwaardig. Besit jy dit egter, maar jy gee dit nie aan ander mense nie, sou almal jou as boos en selfsugtig beskou. Bemark jy dit reg, kan jy skatryk word en miljoene lewens red. Dis sekerlik universeel een van die waardevolste en belangrikste dinge wat daar kán wees.

Ek praat van antwoorde.

Wanneer ons groot besluite moet neem, is antwoorde op ons vrae van kritieke belang.

Wanneer ons siek is, soek ons antwoorde.

Wanneer ons verhoudings skeefl oop of ons geldsake nie wil uitwerk nie, soek ons antwoorde. Dink aan enige belangrike saak, enige uitdaging, enige krisis – as ons nie antwoorde op ons vrae kry nie, dan voel dit vir ons of rampspoed en ellende ons gaan oorweldig. Ons hartseer en ons drome vra antwoorde. Ons voel dis ons plig om antwoorde te soek en dat dit elke mens se reg is om aanspraak op antwoorde te maak.

En ek dink nie ons is ver verkeerd as ons so dink nie. Sonder antwoorde word ons lewe en ons wêreld bedreig.

Só was dit ook met ’n karakter in ’n baie ou verhaal. Hy het alles verloor – sy besittings, sy aansien, sy groot liefde, sy kinders en uiteindelik sy gesondheid. Job.

Soos enigeen van ons sou doen, het Job na antwoorde begin soek. Sy vriende het aan hom goedkoop teorieë van sonde en straf verkoop, maar Job het geweet daar moes
ander antwoorde wees. Waarvandaan het al sy probleme en verdriet gekom en hoekom het dit gebeur? As daar ’n liefdevolle en regverdige Opperwese is, hoekom het hy dit toegelaat? Indien God hom iets wou leer, waarom sou hy dan in sulke tye swyg?

Job het op antwoorde aangedring. God was dit aan hom verskuldig. God moes self met Hom kom praat. En so gebeur dit toe ook.

En wat ’n les leer ons nie uit die antwoorde wat God aan Job gee nie? Hy antwoord hom met ’n paar elementêre vrae. Hoe hang die sterre in die lug? Hoe speel ’n mens met ’n krokodil in die rivier? Wat van ’n seekoei?

Job leer – en ons almal moet leer – om een van die moeilikste antwoorde van die lewe te aanvaar. Die antwoord dat ons nie alles kan verstaan nie. Die aanvaarding dat ’n nietige mens, wat nie eens die raaisels van die fisiese wêreld kan verklaar nie, in hierdie lewe nie die groter raaisels kan verklaar nie. Die misterie van ’n wêreld waarin daar goedheid en boosheid is, liefde en pyn, vreugde en verdriet, lewe en dood.

Job berus. En ons kan ook. Veilig binne-in die misterie kan ons weet: Iemand ken alle antwoorde.