Rubrieke – Koos van der Merwe

Dans van stilte

Hoeveel dinge in die lewe is nie so nie – dit moet gedans word. Jy probeer verniet woorde soek om te vertel van jou hart se warmte toe jy jou kind se babaoë, wat tot in die hemel kyk, die eerste keer gesien het. Hoe verduidelik jy die geur van goeie koffie op ’n koue winteroggend in ’n straatkafee? Of wat sal jy sê om die knetter van die kaggelvuur in ’n kliphuis langs ’n Hoëveldse foreldam te beskryf? Wie kan woorde vind vir die diep verlang as jy ver is en weet jou beminde  verlang nes jy? En waar gaan haal jy die boeke wat kan vertel van ’n Karoonag of ’n Vrystaatse vlakte?

Woorde is goed. Dit kan ’n mens help om te leef. Om te glo. Maar soms is woorde net goed as hulle swig voor die krag van die stilte. As hulle buig voor die ewige onsêbare.

Woorde vertel, en hoe goed vir die hart as woorde van geloof, hoop en liefde weerklink. Maar geloof, of hoop, of liefde wat altyd verduidelik kan word, het te min van dit waarna die hart soms verlang. Die hart verlang na die dans.

Dans is dieper. Woorde wat poog om te vertel van die dans is meestal woorde wat erken hoe ontoereikend ons bietjie intellek is om die alfabet so te kan rangskik dat dit spel wat net die dans kan spel.

Oral in die Bybel kom hierdie woorde voor. Eerlike woorde wat met nederigheid uitbasuin dat die skrywers wag vir die dansers om te kom. Woorde soos “ondeurgrondelik”. Of “onnaspeurlik”. Wat van “oneindig”? Daar word selfs op ’n plek van God se woonplek gepraat as “ontoeganklike lig”.

Die arme woorde – in hul poging om te praat erken hulle net hulle kan niks sê nie.

En so behoort dit te wees. Soms is die swye die grootste verkondiging. Soos nadat iemand jou beledig het. Of wanneer ’n ramp iemand tref en jy woorde van vertroosting wil bring. Die dans is ’n saamwees. Woordeloos. So ook soms met geloof. Dit vra na ontmoeting. Sonder woorde. Sonder dogma. Sonder liedere. ’n Dans op die onhoorbare ritmes van die gees.

  • Roland Prince

    My kerk bied ‘n middag van dans aan deur ‘n dansskool wie se eienaar lank terug deur die Kerk gehelp is om sy skool te begin. Hy se vir my: Die dans sal vir hom praat want sy woorde is te beperk. Ek het lank getop oor hierdie artikel maar vir Koos wil ek se: "Amen"