Rubrieke – Koos van der Merwe

Die een wat betyds was

Net om volgende jaar maar weer te wonder hoe die tyd so vinnig verbygevlieg het sonder om daarby te hou.

Van uitstel kan min mense my leer. Ek het al vele sekretaresses kalmeerpille laat sluk weens my vermoë om afsny-tye tot die laaste sekonde te beproef.

Vroeër, voordat ek die luukse van ’n persoonlike assistent gehad het, het dit my dikwels duur te staan gekom. Eise wat laat ingedien is by die siekefonds. Versekeringsblapse. Lisensies wat verval het. Manuskripte wat deurnag getik moes word. Alles deel van die groot stryd tussen uitstel en betyds wees. Te danke aan die administratief begaafdes in my lewe is die krisis nie meer wat dit was nie, maar nagmerries herinner my steeds aan die groot ellendes.

Soms is jy aan die ander kant van die frustrasie van uitstel. Dan besef jy hoe ’n slegte gewoonte dit is. Mense wat belowe hulle bel. Instansies wat jou verseker hulle faks ’n dokument. En wees dankbaar vir die wonderwerk as jy al ’n huis moes laat bou en alles verloop volgens plan. Uitstel het al menige sondes veroorsaak.

Op Oukersdag sal dit weer so wees.

Maar ek wonder wat die grootste pyn veroorsaak – uitstel of oorhaastigheid. Agterna beskou, was uitstel al dikwels eerder ’n redder as ’n vyand.

Soms was ek al baie dankbaar dat ek gewag het om iets te koop of ’n besluit te neem. Die kere toe ek nie uitgestel het om my mening te lug nie, het my meestal skaam laat kry. Ek weet ook van niemand wat trots voel ná ’n impulsiewe uitbarsting van woorde nie. Daarna wil jy jou tong afbyt, en wens jy het dit eerder uitgestel.

Maar Kersfees praat van die groot betyds-wees. Daar is Iemand wat nooit te laat is nie. Iemand wat in ’n oorvol, haastige wêreld sonder angstigheid tevrede was met ’n stal as geboorteplek. Iemand van wie gesê word dat Hy “in die volheid van tyd” betyds opgedaag het. Nie te vroeg nie, nie te laat nie.

Elkeen wat hierdie Kersfees wag vir ’n uitkoms en wonder hoekom dit uitgestel word, kan weer onthou – Hy was betyds.

En is steeds.