Rubrieke – Koos van der Merwe

Die gewone dinge

En ons weet mos hoe die Fariseërs en die Skrifgeleerdes geroskam is oor hoe hulle hul geestelikheid geparadeer het. Die pad van die Meester loop meestal op geheime plekke en die grootste oorwinnings van die siel vind agter geslote deure plaas.

Stilswye bly maar die beste manier om te praat oor ’n mens se vordering op die moeilike pelgrimstog van die hart. Ek verwys daarom met huiwering na ’n gewoonte waarmee ek meestal maar sukkel. Een van die minder gewilde temas en nie juis een wat kerke sal laat oorloop as predikers te dikwels daaroor praat nie. Die byna onnatuurlike ding wat kenmerkend was van talle geestelikes se geloofspad. Vas. Om nie te eet nie. Om vir ’n tyd lank met die honger uitroepe van die lyf te worstel vanweë die oortuiging dat jy só die oorhand kry oor die ander sondige uitroepe van die vlees.

Klink vreeslik geestelik. Totdat ’n mens dit begin beoefen. Só gaan ek as jong gelowige op ’n keer op ’n vyfdag-vas. Ek verwag openbarings en besoekinge. Reuse-spronge in die spore van geloofshelde wat eeue reeds op dié manier geleer het om die innerlike wêreld die oorhand te laat kry oor die drange van die vlees.

En toe begin die honger. Hy roep verwoed. Ek byt vas. Vyf volle dae lank. Maar van diep, geestelike verrukkinge is daar geen sprake nie. Ook nie van worsteling met my diep, menigvuldige sondes nie. Ek het selfs skaam gekry vir hoe verbeeldingloos die hongerpyne was. As ek nog kon getuig oor hoe ek die hunkering na eksotiese geregte moes weerstaan. Helaas, al waarna my hele wese gesmag het, was ’n Marmite-toebroodjie. My eerste waagstuk op die pad van geloofshelde, en al waarmee ek moes stoei, was ’n eenvoudige toebroodjie. Niks meer nie.

En so het my hoë geestelike ideale aarde toe gekom. Ek het geleer dis juis in die Marmite-broodjies van die lewe dat ons getoets word. Die gewone dinge – dis belangriker as wat jy dink. Jou gewone huismense. Die hou van gewone beloftes. Die dankbaarheid vir dinge soos kos en klere.

En Marmite-toebroodjies.