Rubrieke – Koos van der Merwe

Die hart verlang

Ons herinneringe is deel van ons wese en geen geld kan daarvoor betaal nie. As jou foto’s weg is, voel jy ’n stuk van jou siel is weg.

Tog kyk ek selde na foto-albums. Ou foto’s bring die verlang op ’n manier wat vir my byna onhoudbaar seer is. Die verlang na jou eie kinders soos hulle tien jaar gelede gelyk het. Die glimlag op ’n ou gesig wat jy nie weer in hierdie lewe gaan sien nie. Die tentjie in die winter toe jy en jou seun sonder ’n vis in die net die groot verkluim beleef het. Foto’s se soet en seer is byna onhoudbaar. En as ou video-opnames die dag nader gebring word, is die foltering net té erg. Ek dink nie ’n mens se hart is gemaak om só deur tegnologie verbrysel te word nie, en ek het lankal besluit ek bly by foto’s neem. Dié soort verlang is seer genoeg.

Maar verloor ’n mens die foto’s wat die wonde veroorsaak, voel jy, soos my vriende, dat jy ’n skat van onmeetbare waarde verloor het. Die hart is gemaak om te verlang. Hy gryp terug na ou prentjies. Probeer hulle bewaar. Tower selfs ’n geluk op wat in die goeie ou dae sou bestaan. En indien ’n mens soos in ’n fliek kon terugreis, sou jy dalk vind die geluk was nie regtig so droomwonderlik soos jou hart daarmee gemaak het in sy eie foto-albums nie. In die laaie van die hart word dinge dikwels mooier as wat dit werklik was. En besoek jy hierdie laaie, verlang jy soms na iets wat nie daar was nie.

Teoloë praat van sehnsucht. Die ding wat aardbewoners doen – om te verlang na ’n tyd, ’n plek, ’n iemand. Of is dit regtig ’n spesifieke tyd of plek? Bestaan die iemand na wie ons verlang regtig?

Miskien is die hart gemaak vir verlang. Selfs verlang na verlang. Is verlang nie die krag wat ons verder neem, verby dit wat hierdie stukkende planeet nooit regtig sal kan bied nie?

Dalk het Hy wat die hart gemaak het, dit so bedoel dat verlang die hart aan die gang hou. Op die pad hou. Na die plek waar verlang sal ophou. Na die Een wat daar was voor enige van ons foto’s ooit geneem is.