Rubrieke – Koos van der Merwe

Die leegheid van die siel

Soos dit maar gaan met ons gejaagde skepsels, wat ons bestaan tussen die snelweë en die oorvol skedules van die stad moet maak, wou hulle soveel as moontlik in ’n dag sien en so ver as moontlik in ’n dag ry. Die gidse, wat baie graag hul kliënte wou gelukkig hou, het saamgewerk en sommer gou was die toergeselskap ver voor die program.

Dit het ’n paar dae so gegaan en die stadsjapies het gevoel hulle kry baie meer waarde vir hul geld as waarvan hulle ooit kon droom.

Maar die gidse was mense wat met die ritmes van Afrika leef. En so gebeur dit toe dat die toeriste weer een oggend douvoordag gereed is om nog ’n winskooproete met die nodige spoed en ywer agter die rug te kry. Hulle kon hul oë nie glo toe die toergidse teen ’n boom sit en weier om ’n vinger te verroer nie. Wat het geword van hul dienswillige samewerking? Die vorige aand was daar tog geen teken van ontevredenheid nie. Hoe kon hul gesindheid oornag verander?

Nee, hulle is nie kwaad nie, niemand het iets verkeerds gedoen nie – dis die leegheid wat maak dat die gidse nie verder kan gaan nie.

Ná ’n lang beredenering het die toergroep agtergekom wat die leegheid is waarvan die gidse praat. Hulle het in die nag agtergekom hul siele was nie meer met hulle nie. Met al die gejaag het hulle êrens langs die pad hul siele laat agterbly en dis vreeslik gevaarlik om voor ’n mens se siel uit te jaag.

En al het die beskaafde stadsmense ook hóé onderhandel, dit was duidelik dat geen geld die gidse aan die beweeg sou kry nie. Die toergeselskap moes toe maar dae lank wag totdat die gidse voel hul siele het hul liggame ingehaal.

En wanneer daag die siele, wat die pas nie kon handhaaf nie, toe op? Presies op die tyd toe hulle teen die normale spoed sou wees waar hulle dae lank vir die agtergeblewe siele moes wag.

Hoe dom het die arme toeriste nie gevoel nie. In hul dolle gejaag het hulle die mooi van Afrika nie kans gegee om diep in hul binneste te kom nie. In hul poging om soveel as moontlik, so vinnig as moontlik te kry het hulle meer verloor as gewen.

Afrika het hulle iets geleer van die ritme van die lewe. Iets wat ons so maklik verloor in ons betonwêreld van min stilte, min rus, min stilstaan by waters waar rus is.

Ja, ons is wel in ’n wedloop, maar in hierdie wedloop wen die vinnigstes nie. Dis hulle wat só deelneem dat hulle nie leegloop nie. Hulle wat nie wegjaag van die mense óm hulle nie. Hulle wat stadig genoeg vorder dat hulle die klein mooiheid langs die pad kan sien en die sagte stemme hoor wat hulle nooi om te vertoef en lief te hê.