Rubrieke – Koos van der Merwe

Die liefde

Die familie is klaar gegroet en kinders is klaar vertel hoe groot hulle geword het. Tieners staan half groot, half verleë en so amper-nog-maar-kind rond. ’n Oom
of twee, wat duidelik lanklaas ’n pak klere om die lyf gehad het, wonder selfbewus hoe die klere dan so sonder rede kon krimp. Hier en daar koes ’n suksesvolle
jong sakeman vir die oorywerige soengroete van tannies wat hy op laerskool laas gesien het. Êrens kyk twee verliefdes in mekaar se oë.

Daar is vir hulle tweetjies nie genoeg tyd in een middag om die take van die hart af te handel nie – omhelsings, kusse, dan ’n diep sug en nou en dan ’n gegiggel, om dan weer met groot ywer terug te keer tot vurige omhelsings.

’n Paar manne wonder wat met die rugby of krieket gebeur. Jong soekendes wens heimlik om ander jong soekendes te ontdek en vanaand by die onthaal die
eensaamheid af te skud.

Só kom ’n trouery op ’n Saterdagmiddag week ná week aan die gang. Edel en mooi. Beloftes word gemaak. Gebede word gebid. Bruide in wit glip langs die man van hul drome in en kry sy ring om dit nooit weer af te haal nie. Verlore in mekaar se liefde probeer hulle luister na predikers se wysheid oor die liefde en kry
dit ampertjies reg.

Maar wie sal hulle kan leer oor dit waarvan hulle op daardie oomblik deurweek is? Hoe sal iemand kan verstaan wat hulle voel en hoe ánders hulle liefde is? Ja, ander het al liefgehad, maar die noodlot het bepaal dat hulle twee gekom het by die liefde waarvan gewone sterflinge net kan droom. Onverdiend het hulle die volmaakte ontvang. Ander liefdes mag dalk in troebel waters beland, maar selfs die tot-die-dood-julle-sal-skei in die vraag van die predikant is oorbodig. Want hulle liefde is ewig. Veilig. Vas.

Week ná week ry ek huis toe nadat ek sulke paartjies in die eg verbind het. Wat is die een ding wat ek weer vir hulle sal wil sê? Die een ding waaraan hulle moet vashou?

Ek sou vir hulle wil sê om nooit op te hou glo wat hulle op hierdie Saterdagmiddag glo nie. Om nooit op te hou glo dat hulle die liefde van alle liefdes ontdek het nie. Dat hulle liefde ewig, en veilig, en vas is.

Ja, ’n mens hoor op die onthaal ná die tyd die opmerkings oor hoe blind die liefde is en hoe die tweetjies nog sal agterkom dat die rose bedrieglik is, nes die
maanskyn. Jy hoor van die sak sout en oë wat nog moet oopgaan. Maar ek sou vir hulle twee wou sê om dit nie vir een oomblik te glo nie.

Ja, dis waar dat hulle nog trane gaan stort en ander weë van die liefde gaan ontdek waarvan hulle nou nog niks weet nie. Ja, dis waar dat hulle een oggend gaan wakker word en voel dat die liefde hulle bedrieg het en dat die eertydse bedwelming in die vergetelheid verdwyn het. Maar ek sou vir hulle wou sê om dit nie te glo nie.

Want die liefde is inderdaad ewig. Maar nie aanhoudend nie.

Maar is dit dan nie dieselfde ding nie? O, nee, gaan vra maar vir hulle wat die misterieuse pad van die liefde al baie langer as julle twee loop. Wanneer dit voel asof die liefde sy verrukking en drif verloor het, moenie glo nie. Die liefde, sal julle twee nog vind, wil ’n ritme vind. Soos alles in die lewe. Soos die getye van die see en die skyn van die volmaan. Soos die lenteblomme en die oordadigheid van somervrug.

Seisoene kom en gaan. Dit het nog nooit, wanneer dit gegaan het, nie weer gekom nie. Ek sou vir hulle twee wou sê om te glo dat jul liefde altyd weer en weer sal kom. Ja, julle sal weer en weer bedwelm word. Hierdie Saterdag gaan nie weg nie. Hy kom en gaan. En kom weer.

Glo dit. Gaan soek nooit elders nie. Want Hy wat julle die liefde gegee het, neem dit nooit weer weg nie.