Rubrieke – Koos van der Merwe

Dieper stilte

Stories oor hoe gastehuiseienaars ’n mens nie wil laat vertrek voor ná middagete nie. Die kos. Die gesels. Die aardsheid en warmte van mense wat die lewe ken, en liefhet.

En só besluit ons om die langpad aan te durf en dié wêreld te verken.

Al van Vryburg af voel jy as Johannesburger asof jy besig is om na ’n land van rus en vrede te emigreer. Die hele Kalahari praat ’n oertaal wat die siel die wye vrede van groot vlaktes laat voel. Keimoes se trotse netjiesheid, Springbok se oase-agtigheid, Kleinsee, Koingnaas. Op Garies help ’n Samaritaan ons met ’n gebreekte sleepwa en skenk sommer sy gereedskap net vir ingeval.

Op Paternoster hoor ons hoe erwe meestal meer as R1 miljoen kos. Ek praat met ’n vissermansvrou en hoor of hulle nie hul wit gehuggie wil verkoop nie. Sy’s dan hier gebore, haar ma, ouma en oumagrootjie ook. En waar sal sy weer so oor die see kan kyk soos sy al vir meer as vyftig jaar doen?

Ek voel hoe ’n hartseer my vat as ek besef Paternoster se laaste vasbyters sal nie meer lank kan bly nee sê vir die miljoene nie. En dan is ’n stuk geskiedenis vir altyd verby. Strandfontein, Lutzville, Vredendal, Lambertsbaai.

’n Wye stuk aarde het met my gepraat, maar nêrens so diep en duidelik soos op Pofadder nie. Sy droë wind kan selfs nie in die vaalste, hartseerste cowboy-fliek nagemaak word nie. Slaghuis, twee winkels en dan nog die Chinese winkel ook. Twee ouerige mans, een in ’n onpaar safari-pak en kam in die kous, kom kyk 7de Laan in die hotel se kroeg oor ’n brandewyntjie.

Die kelner kyk verward na ons as ons vir ’n cappuccino vra. Hulle maak nie daai soort goed hier nie, net gewone kos.

Later vertel hy my van die min geld en sy kind en hoe hy nog eendag ’n kar wil koop en hierdie net ’n tydelike werk is. Eendag …

Pofadder, in die mooiste, dorste afgeleë wêreld. En ek weet, hier wil ek weer kom wees. Net wees. Nie stilhou nie. Kom sit en ver kyk. Lank dink. Stadig loop. En lees, in boeke en in die stories van die mense van hierdie ou wêreld.

Ek is terug in die vinnige lewe van die stad. En ek verlang. Pofadder het my net weer laat besef hoe nodig ons almal die stilte het.

Maar die dieper stilte kan selfs Pofadder ’n mens nie gee nie. Net Hy wat gesê het dat jy na jou binnekamer moet gaan, jou deur moet toemaak en met jou Vader moet praat, kan hierdie stilte gee.