Rubrieke – Koos van der Merwe

Droomwêreld

Natuurlik ook deur die soort drome wat kom van die aspirasies en visioene van hulle wat na hoër ideale gestreef het, maar ek praat van die misterieuse wêreld van die onderbewussyn waarheen ons almal elke nag reis. Daar waar ons in die beneweling van die slaap deur die karakters in die drama van ons gedagtes besoek word.

Ons liefdes kom in die drome van die nag, so ook ons vrese.

Die meeste mense het hul unieke rillerdrome. My eie riller is dat ek voor my gemeente staan om te preek terwyl my mond oorvol is van taai kougom. Ek probeer praat, maar net peperment-kougomroggelinge kom oor my lippe. Een vir een begin die gemeente uitstap terwyl ek hulle probeer terugroep en oortuig dat ek iets belangriks het om te sê.

Só verraai my droom my vrees dat ek nie gereed of geskik sal wees om die groot boodskap te verkondig nie.

My gunsteling-droom sedert my kinderdae is dat ek kan vlieg. Só het ek al in die nag menige wêreldrekords in hoogspring en verspring opgestel en die aanvalle van boewe gefnuik.

Ja, dis ’n wonderwêreld, die wêreld van ons drome. Dis genade dat ons in die nag tot stilstand kom en die geniale menslike masjien homself kan “versien”. Die jongste navorsing dui daarop dat slaap selfs ’n groter faktor as oefening is vir ’n mens se gesondheid. Kundiges is dit eens: Die algemene siening dat ses tot agt uur slaap per nag genoeg is, is dalk verkeerd. Die meeste kenners reken nege uur is die ideaal.

’n Ou geestelike het gesê gejaagdheid is nie ván die duiwel nie, maar die duiwel self. In ons gejaagdheid het ons die suiwerende wêreld van ons drome meer nodig as tevore.

Só vertel ’n kollega my jare gelede van ’n droom. ’n Reuse- groen slang val hom aan en hy is oortuig sy einde het gekom. In sy angs gryp hy na die suikerpot en gooi ’n hand vol suiker na die slang, en tot sy verbasing verteer die suiker die slang.

Dae lank het hy gewonder wat die droom kon beteken, totdat hy besluit om dit te deel met ’n bejaarde Engelse vrou wat bekend was vir haar opregte geloof en diep insig. Haar raad was dat wanneer enige afguns of bitterheid sy kant toe kom, moes hy maar net doen wat hy in die droom gedoen het: “Just spread sweetness, my dear, just spread sweetness.”