Rubrieke – Koos van der Merwe

‘Ek is ook lig!’

Dis in elk geval die ideale verskoning om ’n ruk lank van die foltering van die gimnasium af weg te bly. En soos soveel uit-lit-dinge van die lewe kom ’n nek maar altyd weer reg. Op sy eie tyd. En ek weet al hoe om te maak om ontslae te raak van die ellendige styfheid en snaakse “om-’n-hoek”-kyk van ’n olike nek.

Die regte salf en strek, en ’n pilletjie of twee doen gewoonlik die ding. Maar hierdie nek sukkel om reg te kom. Dis nie die gewone styfheid nie. Dis asof die seer en die styf dieper en hardnekkiger (verskoon die onvanpaste woordspeling – ’n mens spot nie met ’n nek nie) as gewoonlik is. En die rede is dat daar ’n ontsteltenis by die ontsteltenis van die skeeflê was.

Ná kerk het hy gekom, die seuntjie met die ogies wat vra dat iemand hom net moet raaksien en laat weet hy is belangrik. Nie in die pad nie, soos hy by sy huis gevoel het voor hulle sy vierjarige, verwarde lewetjie in ’n kinderhuis gaan wegsteek het.

Die vorige naweek het hy by ons deurgebring omdat daar nêrens in die wye wêreld ’n naweekhuis was vir ’n klein seuntjie met ’n leeftyd van hartseer agter die rug nie. Toe hy my sien, wou hy opgetel word, hoog in die lug – met een hand. En hy wou lag uit sy maag uit. Hy wou vier jaar oud wees en ’n sterk hand voel wat hom hoog kan gooi.

Want hy is mos lig soos ’n veertjie, het ek gesê.

En toe, asof vanuit die niet, het nog ’n klompie seuntjies om my gedraai, almal ’n bietjie ouer en swaarder. Maar soos een man het hulle geroep: “Ek is ook baie lig, Oom!”

Ek het geweet ek moes nie, maar hoe kon ek op die kerk se stoep nie luister na ’n kind wat vra om raakgesien te word nie?

En nou sit ek met ’n nek. En ek wens ons harte wil meer toelaat dat die seer van die lewe om ons tot ons deurdring. Totdat dit nie net ons nekke nie, maar ook ons harte laat pyn.