Sandra in die toneelstuk Die naaimasjien

Rubrieke – Koos van der Merwe

FEBRUARIE-GEDAGTE 2005

Want Afrikaans kan ’n man veral in Valentynsmaand kniediep in die moeilikheid bring. Dieselfde woord waarmee hy sê hoe hy voel oor visvang of ’n kar, is die woord waarmee hy sy ewige gevoel vir die vrou in sy lewe verklaar. Hoe dit gebeur het dat ons met hartstog op Afrikaans kan sê: “Ek is lief vir jou” en ’n paar minute later “Ek is lief vir sjokolade” weet ek nie, maar ons almal weet “lief” en “lief” is verseker nie altyd dieselfde ding nie.

Grieks weet al eeue reeds jy kan nie só met die liefde maak nie; daarom is daar verskillende woorde vir verskillende liefdes. Een van daardie woorde is Eros – daardie liefde wat twee bemindes met bedwelming oorval. Hy bewerkstellig bewondering sonder weerga.

Eros wil bewonder. En dan wil hy vat en voel, omhels en droom. Wie van ons kyk nie na twee verliefdes met ’n tikkie jaloesie en ’n groot stuk bejammering nie? Ons verlang na die tyd toe die heelal ’n toevallige byskrif was by die groot storie van ons ewige liefde.

Vreemd dat ons ewige beloftes aan mekaar maak in ’n tyd van ons lewe dat ons “mislei” is deur Eros. Maar so het Hy wat ons ontwerp het, in sy groot wysheid besluit. Eros is so ’n dramatiese en innige liefde dat ons voel dit gaan altyd so bly.

Ons dink daar is fout wanneer Eros se bedwelming begin taan. Die liefde wat ons laat dink het hy is ewig, verdwyn in die getroude lewe êrens tussen alledaagse dinge soos wasgoed en rekeninge. Hoe hou ’n mens beloftes as die liefde wat jou die beloftes laat maak het net nie meer daar is nie?

As Eros begin kwyn, kan jy hom nie terugkry deur hom by ’n ander te soek nie. Ook dáár sal hy maar weer verdwyn.

Jy gaan ook nie regkom deur jou maat te beskuldig nie. Jy het ’n dieper liefde nodig. En ook hier kan die antieke wysheid van Grieks ons help: Eros is nie die groot liefde nie – hy moet buig voor die ewige, voor Agapé, die liefde van liefdes. Agapé dien, al maak dit seer. Hy hou beloftes. Hy bemin asof Eros steeds daar is. En wanneer Eros gebuig het voor Agapé, kom hy terug. Dalk verras hy jou in hierdie Valentynsmaand. Maar hy kom slegs terug, weer en weer, as jy toelaat dat die Meester van Agapé jou leer om waarlik lief te hê. Hy weet van liefhê al maak dit seer.