beach_boys
Rubrieke – Koos van der Merwe

Gelukkig is daar ‘n …

Miskien was dit omdat ons agt kinders was en enige huis wat só oorbevolk was, sulke noodmaatreëls moes tref.

In elk geval, ek het gedink my ma het dit uitgevind en ek was dankbaar vir haar geniale vindingrykheid. Ek het gewonder hoe erg dit moes wees in ander huise wat dit nie het nie. Dit het die lewe net soveel makliker gemaak, soveel krisisse voorkom en opgelos. Hoe sou ons daarsonder kon regkom?

Toe ek ouer word, kom ek agter daar’s ander mense ook wat agtergekom het dis onmoontlik om die vrede te bewaar sonder my ma se uitvindsel.

Mettertyd het dit tot my deurgedring dat dit maar net my kinderlike onkunde was wat my laat dink het my ma het dit uitgevind, want almal by wie ons kom, gebruik dit. Ek wonder of selfs Buckingham-paleis nie ook op dié manier werk nie. Vandag besef ek daar moet groot fout wees in enige huis wat nie het wat die meeste van ons het nie.

Ek praat van ’n deurmekaarlaai.

Waar sou jy verlore skêre, naelknippers en naellak, vuurhoutjies, batterye of batterylaaiers, penne, selfs tange, ou sleutels, elektriese proppe, kamme en knipmesse gaan soek as in die deurmekaarlaai? Hoe swaar sou die lewe nie wees as ’n mens elke dag elke ding presies op die regte plek moes gaan bêre nie?

Ek dink daar is party goed wat selfs nie ’n plek het waar ’n mens dit kán bêre nie. Hoe sou ’n mens die kombuis en omstreke vinnig ’n bolangse aan-die-kant-maak kon gee as daar nie ’n deurmekaarlaai was nie? En hoe sou die hoop nie beskaam het as jy tevergeefs vir ’n ding op sy plek soek en daar is nie ’n deurmekaarlaai waarheen jy jou kan wend nie?

Die deurmekaarlaai herinner ons daaraan dat daar op dié aarde nie so iets soos ’n volmaakte huishouding is nie. In my huis is daar ’n skoonheid aan bewind wat glo dinge moet mooi, reg en netjies wees, maar selfs sý het ’n deurmekaarlaai.

Die deurmekaarlaai is ’n stukkie nederige erkentlikheid dat die mensdom met al sy wetenskaplike vernuf nooit dinge perfek kan laat verloop nie.

So is dit ook in elkeen van ons se lewe. Hoe opreg, hoe hard ons ook probeer om dinge reg te doen, êrens loop dinge skeef. Êrens gaan ons gebroke onvermoë die kamers van ons hart deurmekaar maak. Wie dit nie erken nie, leef ’n skyn.

En gelukkig is hulle wat weet dat daar ’n stuk genade is – genade soos ’n deurmekaarlaai – waarheen ons ons deurmekaar, sondige lewe kan neem.