Rubrieke – Koos van der Merwe

Gestuur op ons pad

’n Storieverteller wat sy sout werd is, sal sy handelsmerk vestig met hoe hy woorde gebruik. Dan is daar nog die uitspraak en die aksent. Wie sal nie wyle Jan Spies se koffiekapitaal, wat so ryk en lekker was, onthou nie?

Dit lyk vir my asof die kuns van woorde daarin lê dat jy dit op so ’n manier gebruik dat die woord ongemerk die storie binnekom, en as hy eers in is daar geen ander woord in enige woordeboek of biblioteek is wat die ding wat gesê wou word, beter sal kan sê nie. Tog spring die woord nie uit nie, hy hoort daar, maar ons gewone sterwelinge sou hom nooit daar gesit het nie. Die gawe om die een regte woord uit duisende te kies om jou sê reg te kan sê word met spaarsamigheid uitgedeel.

Soms lê só ’n woord weggesteek in ’n storie en moet hy opgediep word. Sommige digters kan so met ’n woord maak. Hulle bêre hom vir diegene wat bereid is om dieper te grawe. Net dié wat regtig dors is, sal by hierdie woordfonteine uitkom. En selfs al soek jy, sal jy ’n woord soos hierdie soms vir jare lees en nie opmerk nie. Maar vind jy hom die slag, dan weet jy, ’n meester het met hierdie woord gewerk.

Een van hierdie soort woorde lê weggesteek in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Die Griekse woord vir “toevallig” word in die Ou Vertaling met die woord “bygeval” vertaal. ’n Priester het “toevallig” verby ’n man geloop wat deur rowers oorval is en sterwend langs die pad gelê het. En die priester het niks gedoen om te help nie. Die Griekse woord vir “toevallig” kom slegs hierdie een enkele keer in die hele Bybel voor!

Weggesteek.

En tog, met hierdie een woord leer ons een van die grootste liefdeslesse van die lewe. Hulle wat regtig liefhet, glo nie in die toeval nie. As ek na die mense op my pad as toeval kyk, sal ek nooit liefhê nie, nooit ’n verskil maak nie. Hy wat weet van liefde wil ons leer om na elkeen op ons pad te kyk, nie as ’n toevalligheid nie, maar ’n gestuurde.