Rubrieke – Koos van der Merwe

Helde onder vroue

Lees maar van oorloë en politiek, kuns en wetenskap en gou sal jy besef ons planeetjie sou nie naastenby wees waar hy nou is as dit nie vir die skoner geslag se dapperheid, insig en genialiteit was nie.

Die Moeder Teresas en die Helen Kellers, die Bybel se Ester en Helena van Troje tot by Ragel de Beer en so ver terug tot by Maria langs ’n krip en by ’n kruis. Stemme wat bekoor het en penne wat geskryf het sodat ons gewone wesens kan stil word en bewonder.

Ek het eers onlangs die nimlike Jane Austen ontdek en weer besef: Dié vrou, soos soveel ander, verstaan die hart, verstaan die liefde en weet van die lewe.

Maar daar is vroue wat nêrens, ten minste nie in hiérdie lewe, die bladsye van die geskiedenisboeke gaan haal nie. Maar hulle verander die wêreld.

Só sit ek en my vrou en bekyk die doenige spul meisietjies. ’n Giggelende klompie laerskoolse tieners-in-wording. Hokkie-oefening. Dis amper tyd vir aandete. Kinders moet netnou gehelp word met huiswerk en klavier-oefening en borglyste en hartsake en verlore skoene en truie en eksamenroosters en ’n miljuisend ander dringendhede wat ontwerp is om die lewe ’n baie moeilike affêre te maak.

Maar nou is dit hokkie in die laatmiddag. En die hokkiejuffrou rig af, gee raad, praat moed in, hardloop op en af, komplimenteer, werk strategieë uit, sweet en organiseer, giggel saam en gee tog sterk leiding. Om haar is haar eie twee kleiner spruite wat ook netnou moet aandete kry, gebad word en hul eie lang lysie van dringendhede sal hê. Behendig maak sy hulle deel van die oomblik sonder om te doen wat ek sou doen – ’n onmiddellike senuwee-ineenstorting kry.

Bewondering wel in my gemoed op. Wat ’n vrou. Sy verander die wêreld. Die wêreld van my kind en hoeveel ander. Ek wonder of sy dit weet?

En as die geskiedenisboeke nie daaroor skryf nie, laat hierdie bladsy dan vertel: Daar is helde onder vroue, en min groter as juffrouens wat meisietjies op netbalbane en hokkievelde help om te leer lewe.