Rubrieke – Koos van der Merwe

Honger vir ’n drukkie

Ons kon weer vir arm kindertjies skooltasse en skryfbehoeftes gaan uitdeel. Nog ’n welsynprojek suksesvol afgehandel.

Maar ek was nie voorbereid op wat só ’n projek aan ’n hart kan doen nie.

Dit was die eerste keer dat ek self saamgegaan het om die tasse uit te deel. Om die gesiggies te sien van kindertjies wat dae, miskien weke laas gebad het. Om te sien hoe hulle met ou kosblikkies opdaag om by die voedselhulpskema hul enigste goeie maaltyd vir die dag te kry. Om die blymoedigheid te sien wanneer hulle aan die sing raak onder die armoedige afdak waar hulle deur vrywilligers vir die middag versorg word. Die ogies wat honger soek vir iemand wat met ’n warm glimlag kyk, die lyfies wat honger, nie net na welsynkos en gratis klere nie, maar na ’n druk en die warmte van ’n grootmens.

Die stories wil jou hart skeur.

Kinders wat al jare so versorg word en wat vir die vrywilligers soos hul eie begin voel. As die “antie” aankom, begin ogies blink. Die seuntjies wat skaam lekkerkry as jy speels hard aan hom vat soos ’n man moet vat. Die meisietjies wat blom as jy oor hul vuil wangetjies vryf.

En jou hart wat breek. En jy wens jy kon honderd pa’s gewees het vir hierdie goedjies.

Wanneer jy huis toe ry, is jy bly oor die kinders wat nie meer skaam gaan kry omdat hul skoolboeke in ou plastieksakke verniel word nie. Hul eerste skooltasse.

Armoede en hartseer lyk anders op TV en in boeke as in stofstrate. Miskien het die kinders daardie dag vir ons ’n groter geskenk gegee as ons vir hulle. Hy wat die lewe verstaan, het gesê dis meer geseënd om te gee as om te ontvang.

Kyk om jou en kom agter hoe ryk jy is.