Rubrieke – Koos van der Merwe

JANUARIE-GEDAGTE 2005

En natuurlik herinner die toekoms ons aan die onverbiddelike verloop van tyd en ons eie verganklikheid. ’n Mens voel jy kan nie wag dat die nuwe dinge aanbreek nie, maar tog wens jy dit wil nooit kom nie.

Die toekoms is ’n onvastigheid; ’n onbepaalde, onbetroubare, wisselvallige misterie. Glo ’n mens naïef dat alles net goed sal gaan, word jy dalk net ontnugter.

Verwag jy net teëspoed, word jy ’n pessimis en ’n siniese, paranoïese askeet.

Probeer jy gebalanseerd die goeie en die slegte verwag, voel jy soos ’n magtelose fatalis, uitgelewer aan die noodlot, en wil jy jou op albei moontlikhede voorberei.

Ja, die toekoms het elkeen van ons as’t ware skaakmat.

Tog dink ek dat ’n mens jouself uit hierdie dilemma kan kry. Daar is ’n vaste anker wat die toekoms se verlammende mag oor ons in toom kan hou. ’n Verhaal uit die Tweede Wêreldoorlog uit die argief van die Bybelgenootskap het my baie hoop vir die nuwe jaar gegee.

Barbara Enholc-Narzynska, ’n voormalige algemene sekretaris van die Bybelgenootskap in Pole, vertel van haar wedervaringe as jong meisie in Pole.In die oorlogsjare was haar pa die algemene sekretaris van die Bybelgenootskap.

Toe Warschau binnegeval is,  het hy en sy personeel, voordat hulle gevlug het, besluit om die groot voorraad Bybels in ’n kelder onder die Bybelgenootskap se gebou toe te sluit.

Warschau is verwoes en die omgewing waar die Bybelgenootskap se gebou was, is met die aarde gelyk gemaak.

Barbara vertel hoe sy saam met haar pa teruggekeer het en die verskriklike verwoesting aanskou het. Die chaos het dit byna onmoontlik gemaak om iets te herken. Terwyl hulle deur die rommel na oorblyfsels soek, ontdek hulle ’n herkenbare gedeelte van die gebou. Dit was die gedeelte bo-oor die klipportaal by die ingang. Hierop was ’n inskripsie uit Lukas 22:33: “… my woorde sal nooit verbygaan nie”.

Hulle het dadelik die rommel begin verwyder en het die kelder met al die Bybels onbeskadig gevind. Net soos hulle dit toegesluit het!

Ja, die toekoms kan mooi én lelike dinge inhou en ’n onvoorspelbare bedreiging wees, maar daar is vastighede in die lewe wat groter as die blote verloop van tyd is.

Ons kan die toekoms met die hoop op goeie dinge binnegaan, omdat daar in die rommel van die lewe pilare vasstaan wat deur geen aanslag verwyder kan word nie.

Die Bybel praat van die anker van die siel, en net soos met die Bybelgenootskap van Warschau, is daar kelders van die hart wat onvernietigbaar word wanneer hulle geanker is, nie net in die toekoms, hede of verlede nie, maar in onverganklike, ewige dinge soos geloof, hoop en liefde.

Mag 2005 vir jou ’n geankerde jaar wees!