Rubrieke – Koos van der Merwe

JUNIE-GEDAGTE 2005

Alles het gespreek van vrede en gemoedelikheid. Die kerkdienste was oorvol en deur die week het mense kom kuier. Van heinde en ver het die mense gekom om te oornag in die abdy en vrede te vind in die katedraal en die lieflike tuine. Selfs jongmense en kinders het daarvan gehou om in die tuine piekniek te hou en te speel.

Gaandeweg het die monnike begin hoogmoedig raak oor hul gewildheid – en hoogmoed bring natuurlik altyd ’n paar lelike familielede saam. Hulle het afgunstig geraak op mekaar se gewildheid. Gou het hulle begin meeding om besoekers se guns en vriendskap.

Nie lank nie of hulle het van mekaar begin sleg praat. Kort-kort het hulle selfs in die teenwoordigheid van besoekers begin stry oor wie dan nou die gewildste, bekwaamste en nederigste (!) van die drie sou wees. Al hoe minder mense het na die abdy gekom. Die dienste in die katedraal het begin leegloop en die kinders het geprotesteer as hul ouers die abdy wou besoek.

En so het dit gebeur dat daar uiteindelik net ’n paar ou bittereinders en soms ’n vreemdeling na die abdy gekom het.

So nou en dan het die Joodse rabbi en die monnike by mekaar gekuier. Die monnike het by een so ’n geleentheid hul lot by die ou rabbi bekla. Ná ure se oor-en-weer beskuldigings en heftige meningsverskille het hulle gevra wat die rabbi dink.

Hy’t gesê hy het geen idee hoekom besoekers wegbly nie. Maar hy wou hulle tog vertel van ’n gerug wat hy gehoor het …

Ewe ernstig sê hy sy kollegas is gaande oor wat hulle by ’n groot profeet gehoor het – dat een van die drie monnike die langverwagte Messias was.

Natuurlik het elkeen van die monnike by homself geweet hy kon nie die Messias wees nie. Elke mens is mos maar alte bewus van hoeveel sondes hy het, en die Messias kon tog nie sonde hê nie. Dus moes een van die ander twee monnike dan die Heilige Gestuurde wees. Skielik was elkeen baie skaam oor hul hoogmoedige en afgunstige optrede. Hulle het mekaar met ’n nuwe respek en dienswilligheid behandel. Die een was yweriger as die ander om mekaar te dien.

Almal was vriendelik en toegeeflik.

Die ou rabbi het ’n paar maande later net geglimlag toe hy hoor hoe oorvol die abdy weer was.

Só kan ons lewe ook oorvol wees as ons aan elke mens dink as ’n Gestuurde van Bo.