Rubrieke – Koos van der Merwe

Koop sonder geld

Maar Clarens se berge het geroep. En so vat ek en die mooi een die lang pad. Ons los die kinders by oupa en ouma en die geraas en gejaag en besoedelde lug vir ons mede-stadsgenote. Verby klein dorpies begeer ons elke ou-ou huis, elke stofstraat en elke lappie aarde naby berg of water.

En dan kom Clarens. ’n Mooi wat seermaak.

’n Geheim wat jy met die ganse wêreld wil deel en tog wens niemand ontdek dit ooit nie. ’n Weggesteekte heiligdom tussen ewige berge. Ons kruip weg en maak asof ons hierdie stilte gewoond is. Ons drink die prentjies om ons in. Elke galery se kunswerke dreig om ons begroting permanent te verongeluk. Elke antieke meubelstuk pleit soos ’n klein hondjie by die hokke van Dierebeskerming om saamgeneem te word. Ons drentel en droom die dag om met klein geskenkies, romerige koffie en die luuksheid van geen agenda, geen afsprake, geen pligte nie.

Al wat tel, is die mooi óm ons en die saamwees.

Ek praat met ’n oom van Bethlehem oor ’n erf op Clarens. Hy lag en sê ek moes vroeër gevra het. Nou kan net die rykstes ’n stukkie Clarens bekostig, maar daar was dae (nie te lank gelede nie) dat die Bethlehem-Munisipaliteit erwe verniet weggegee het vir mense wat sou onderneem om die erfbelasting gereeld te betaal.

Ek aanvaar dit gedweë dat Clarens, net soos Koos Kombuis se huisie by die see, iets is wat net gehê sal wil word, maar nie gekoop sal kan word nie.

Twee lesse kom saam met ons terug. Die eerste het te doen met hoe duur mooi dinge is. Dit maak sin dat Clarens se erwe so duur is. Dit is hoe dit is met dinge wat mooi en edel is. Dinge soos stilte en saamwees.

Jy koop dit nie sonder om ’n baie duur prys te betaal nie. Ja, miskien is ’n Clarens-huisie die meeste van ons nou nie meer beskore nie, bloot omdat ons bankbalans dit nie toelaat nie, maar die regte duur dinge kos nie geld nie. Dit kos besluite. Tyd. Soms koop ons nie die stilte, of saamwees nie. Ons dink dit is ’n te duur luukse. Totdat ons agterkom die prys wat dit kos om hierdie dinge nié te hê nie, is oneindig duurder.

Die tweede les laat my wonder hoeveel Clarense daar nog lê wat onontdek is. Hoeveel juwele van klein dorpies daar is wat wag om ’n heenkome te wees vir uitgemergelde stadsbewoners. Ek wonder hoeveel van ons gaan deur die lewe en sien nie die geleenthede raak wat om ons lê nie. Die lewe is ’n wonder. Dis vol verrassings.

En Clarens laat my voel die gejaag óm ons verhinder ons om die dinge te sien wat regtig saak maak.

Ek herinner my aan die profeet wat gesê het: “Kom koop sonder geld …”