Rubrieke – Koos van der Merwe

Koos van der Merwe: En daar was engele

Hulle was gewone skaapwagters en dit was maar net nog ’n nag in die veld. Totdat daar in daardie nag ’n
engel opgedaag het wat vertel het van ’n Kind wat gebore is. En toe ’n menigte engele wat vertel het dat God van mense hou, of in kerktaal: ’n welbehae in mense het.

’n Kind glo dit so maklik. Die storie van die engele. Maar dan word ons groot en vergeet van die wonder. Die intuïtiewe betowering van ’n dieper weet. Die weet wat nie van verduideliking afhanklik is nie. En moenie glo dat dit net ’n naïewe aanvaarding of ’n oningeligte liggelowigheid is nie. Dis soveel meer. Dis daardie vastigheid van ’n oerwete wat moeilik met iets so gewoon soos woorde beskryf kan word. ’n Wete so diep soos die binneste se eerste roeringe.

Ons verloor dit êrens. Engele en feetjies, kabouters en reuse – almal land so met die grootword op ’n manier in dieselfde vae laaie van vertwyfeling. Maar die lewe ken die geheim om die wonder terug te bring. Ongesiens, so tussen die alledaagse, kom die buitengewone en verhewene. Sonder dat jy weet hoe, begin jy glo dat daar ’n edelheid is wat vir seker nie van hierdie wêreld af kom nie. En so voel jy weer kind. Jy glo weer in meer as die gewone. Ja, selfs in die engele van Kersfees.

Niemand moet vir my kom vertel daar is nie engele nie. O nee, van engele het ek eerstehandse kennis. Ek is nou wel nie ’n skaapwagter nie. En van hemelse verskynsels kan ek nie met eerlikheid getuig nie. Maar dat daar nie engele is nie, daarvan sal jy my nie oortuig nie. Nie omdat ek universiteitsgange deurgetrap het om meer te leer oor die boek wat van hulle vertel nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie, my kant het ek gebring met die akademie. Maar, helaas, tussen die blaaie van die teologie het die engele nie juis geskuil nie. Hulle het met ander roetes teruggekeer.

Só het ’n engel ’n paar jaar gelede oor my pad gekom. Ek sal haar naam nie noem nie, want engele verkies meestal om anoniem te bly. Nes die engele waarvan in heilige bladsye vertel word, daag sy op op plekke waarvoor ons gewone aardlinge nie altyd die moed het nie. Ek vra haar waarom sy dan nou al die
vreeslike moeite doen om ’n Kerspartytjie te reël vir kindertjies in die plakkerskamp. Maak dit regtig ’n verskil? wil ek weet. Is alles nie maar weer teen Februarie vergete nie? Hoekom soveel weke se werk insit en al die geld uitgee vir hierdie Kerspartytjie wat sy noem die Angels’ Breakfast?

Dan praat sy, en haar woorde herinner aan die engele by die skaapwagters. Dis weer die welbehae boodskap, nes die engele vir die skaapwagters vertel het: God hou van mense. Jy moet net sien, sê sy, hoe wonderlik die kindertjies is. Hulle kom uit hul sinkhuisies en hulle skyn soos engele. En ek dink in my
enigheid hoe opvallend dit is dat een engel ander engele so maklik kan raaksien.

Sy verduidelik ook vir my hoe verkeerd ek die ding eintlik verstaan. Ja, die kindertjies is natuurlik vreeslik bly en opgewonde om ’n regte, egte partytjie te hou en presente te kry waarvan hulle voorheen net kon droom. Maar sien, die mense wat eintlik regtig nie kan wag vir die partytjie nie, is nie soseer die arm kindertjies nie, maar wel sy en die bevoorregtes wat die partytjie reël. Jy moet net sien hoe leer die ryker kinders waaroor die lewe gaan. As jy sien hoe arm en ryk saamspeel en vergeet van grense, sal jy verstaan. Ja, ek weet, alles word beplan om die arm kinders ’n dag te gee wat hulle nooit sal vergeet nie, maar die waarheid is dat ons wat ons tyd en geld vir hulle gee, nooit weer dieselfde sal wees nie. Die blink, arm gesiggies het ons lewe kom verander.

Só gaan sy aan, en ek besef maar net weer, daar is engele onder ons. As jy mooi luister, sal jy hulle steeds kan hoor sing: Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde, in die
mense ’n welbehae!

  • Emgy1Q irdgekwvjlzn, [url=http://uildrifwnycb.com/]uildrifwnycb[/url], [link=http://ggutigkzvjrt.com/]ggutigkzvjrt[/link], http://ozdehwlucwdl.com/

  • saartjie

    Sowaar! Hier het ek die bewys waaroor ander mense altyd lag: daar IS Engele, daar IS feëtjies en kaboutertjies, en daar IS soms drome selfs in die mees siniese van ons.