sr1006laastese01a
Rubrieke – Koos van der Merwe

Koos van der Merwe: Laaste sê om onder deur die maan te loop

Jy kry oggendmense en jy kry aandmense. Oggendmense se gedagtes, gemoed en energie is glo beter nader aan sonsopkoms en aandmense s’n nader aan sonsondergang.

Ek was tot onlangs nog ’n oggendmens in elke sin van die woord. Want nie net was ek soos ware oggendmense op my beste saam met die kraai van die haan nie, maar ook het ek al vele male van ons beste vriende vergas met my halftien-insluimering terwyl die geselsery vir ’n wyle ’n effe onopwindende oomblik beleef. Dinge was duidelik – oggend is vir opstaan en aand is vir gaan lê.

Maar dinge het verander. Nee, ek het nie die luukse aangeleer van laat slaap nie – daardie genade is my steeds nie beskore nie. Ek luister dikwels, veral in vakansietye, met verlangende jaloesie hoe my gesin met trots praat oor hoe vroeg hulle vanoggend wakker geword het. Dit is gewoonlik ná tien, maar darem voor die gebruiklike elf of twaalf, afhangende van die weer en die vorige nag se rinkink. Hierdie vroegoggend-prestasie word gewoonlik met nagklere en ’n krakerige stem en ’n eerste koppie koffie aangekondig. En dan is ’n tweede inlê ná ’n vroeë ontbyt nog glad nie  uitgesluit nie. Nee, hierdie luukse lê vir my dekades terug in die onwerklike droom van ’n vorige lewe.

Tog is dinge deesdae anders as hoe dit vir baie lank in my oggendmensroetine was. Gaandeweg het ek aandmense se gewoontes begin aanleer sonder om oggendmense s’n af te leer. Hier ’n bietjie vroetel nadat jy al ’n bietjie vaak geword het. Daar ’n bietjie woel ná ’n insluimering voor ’n vervelige TV. Miskien was dit nie eens regtig die oorsaak nie, want ek onthou hoe ek maar altyd nou en dan soos ’n wafferse  aandmens ’n boek nie kon neersit nie of ’n viskatrol móés uitmekaarmaak en diens tot lank ná middernag.

Hoe dit ook al gebeur het – wanneer die oorgang plaasgevind het, weet ek nie. Al wat ek weet, is dat almal in die huis al slaap voordat ek bed toe gaan en dat almal nog slaap nadat ek lankal wakker is.

Een van die dinge wat ek in aandmense se wêreld ontdek het, is die maan. Waar was hierdie betowerende planeet al die jare? Niemand het my ooit vertel hoe ’n mens in verwondering kan staar en verdrink in die misterie van sy geheime spel met miswolke en swart boomsilhoeëtte nie. Ek onthou die eerste keer toe ek in die nuwe laatnag-wakkerwees besluit het om die nag in te stap. Dit was volmaan. Waar ek bly, is daar nie juis verkeer nie en ná elf skaars ’n lig wat brand in enige van die klompie huise van die amperse dorpie. Daardie nag het ek besef hoekom iemand lank gelede met sy Suikerbossie onder deur die maan wou loop. Met of sonder Suikerbossie is dit iets waarna die siel smag. Om in die nag onder ’n lig te loop.

Die naglopery het deel van my lewe geword. Volmaan en donkermaan, halfmaan en sekelmaan. Donker nagwolke en helder sterrehemel. En die vryheid van ’n nagwind op jou lyf terwyl jy inluister op sy gesprek met uile en nagdiere. Ek het die nag ontdek. En ek dink almal, aandmense en oggendmense, moet soms die nag in loop. Selfs al is daar nie ’n maan nie. Dis goed vir die binneste om te weet dat daar goeie dinge in die donker is. Dis goed vir die oë om te onthou dat hulle ook in die donker kan sien. Dis goed vir die ore om ander geluide te hoor as die besige geluide van die dag. Dis goed vir die gees om te weet dat die donker jou vriend kan wees.

In ’n wêreld van vinnige kure en slim medisynes het ons dalk verleer om in die donker van die lewe betekenis te vind. In ’n wêreld waar jy dag en nag helder ligte kan aansit, het ons dalk verleer om die stem van die donker te ken. Die nag kan jou leer van sterre in die donkerste uur. Die nag kan jou leer stil word en terugkyk na die sondes van die lig. En die nag kan jou laat ontdek dat daar net een ware Lig is.

Gaan loop onder deur die maan.