sr1009laastese
Rubrieke – Koos van der Merwe

Koos van der Merwe: ’n Ongewone waarskuwing, laaste sê

Geen diens is vir diesulkes die ware Jakob as die swael en vuur nie kennelik, soos oor ’n Sodom van ouds, in die kerk geruik kan word nie. Hoe warmer die preek én die vlamme waarteen dit waarsku, hoe beter.

Vele kere is ek al gemaan om met groter erns te vertel van die groot toornigheid oor die vervallenheid van die mensdom. En noem die dinge by die naam. Moenie die gehoor streel nie. Ons kort weer manne van die kleed wat soos die profete van ouds sonder om te skroom die boosheid van die volk aan die lig kan bring. Vertel van die skandes. Ontbloot die bandeloosheid en uitspattigheid. En moenie spaarsamig wees met die vlamme nie . . .

’n Gesonde dosis waarskuwing op sy tyd is sekerlik nie onvanpas nie, maar dikwels is daar minder heilsame redes vir hierdie behoefte om aanhoudend aan ’n komende verdoemenis herinner te word.

Vreemd genoeg voel party mense in die algemeen asof ’n wolk van dreigende onheil oor hulle hang en ’n preek wat slae uitdeel, laat hulle beter voel. So asof die straf sommer klaar toegedien is en hulle vir ’n rukkie uit die somber skadu’s van minderwaardigheid en vrees kan kom. ’n Weeklikse paaiement straf vanaf die kansel voel meer draaglik as die afwagting van ’n ewige en groeiende rekening eendag.

Ander geniet weer verdoemenispreke van apokaliptiese omvang omdat siele so heilig en rein soos hulself tog in der ewigheid nie naastenby kan kwalifiseer vir die geween en die gekners van tande wat op ander meer geskikte kandidate wag nie. Diesulkes het as ’t ware versekeringspolisse van verdienstelikheid en nederige dankbaarheid.

Ek wonder soms of hulle dankbaarheid meer te doen het met die oortuiging dat hulle die marteling gaan vryspring of wel met die genoegdoenende gedagte dat talle ander (wat hulle selfs ook by name kan identifiseer) die foltering wel deeglik aan hul ewige lywe gaan voel.

Nietemin, daar is ’n ongewone waarskuwing wat nie pas in een van hierdie twee groepe se idee van die oordeel nie. Om die waarheid te sê, niemand dink eerste aan hierdie waarskuwing wanneer dit kom by straf en verdoemenis nie. Min mense weet eers daarvan.

Praat oor die oordeel en ons gedagtes gaan onwillekeurig na skandes en oortredinge. Selfsug, wreedheid en onmenslikheid – ja, as daar iets soos ’n oordeel is, verdien hierdie dinge in die mensdom dit.

Maar, vreemd genoeg, een van die ernstigste waarskuwings in die boek waaruit ek al byna dertig jaar preek, noem iets heeltemal anders wat ook op die agenda is van Hom aan wie die oordeel behoort.

Ek sien sommer die teleurstelling op die gesigte van die twee groepe hierbo wanneer ek hierdie oordeelspreek verkondig. Dit begin met waarskuwings van die ergste graad.

Die twee groepe is in hul noppies. Die teks voorspel ’n straf van ondenkbare lyding. Die verdoemdes gaan opswel. Ja, dis reg, sê dit soos dit is, sien ek op my arme toehoorders se gesigte.

Die verdoemdes, sê die teks, gaan ’n jeuk jeuk waarvoor geen gekrap help nie. Dis asof ek ’n dankbare “Amen!” hoor. Dan kom siektes, en huise wat gebouword, maar nooit bewoon word nie.

Bruide wat getrou word, maar ’n ander man s’n word. Wanneer die teks verwarring en selfs blindheid opdis, word dit ’n fees vir my genoemde liewe toehoorders. Vandag word die waarheid gepraat soos hy gepraat moet word . . .

Die gevolge van die oortreding klink byna onwerklik en oordrewe. Die  wreedheid byna ongepas, behalwe vir die genoemde tevrede toehoorders. Maar dan die ontnugtering. Kan dit wees? Kan die teks dit regtig bedoel? Hy wat oordeel, gee sy rede: Julle het die lewe nie genoeg geniet nie. Julle was nie vrolik genoeg nie.

En my groepie tevredenes is verpletter.

Snaaks hoe ons dit miskyk. ’n Oordeel, nie omdat jy te veel geleef het nie, maar te min. Te veilig. Te somber. En so is Deutorenomium 28, nes die res van die Bybel, ’n waarskuwing, ja, maar veel meer ’n uitnodiging.

 

Om te lééf. Eerder te veel as te min.