Rubrieke – Koos van der Merwe

Met al ons liefde

Nie sommer so ’n gewone affêre nie – net die beste vir hul kind. Want sy’s nie sommer ’n gewone kind nie.

Só was ek onlangs op ’n troue waarvan nie net die ouers nie, maar almal teenwoordig gesê het dat hulle nog nooit so iets gesien het nie. Alles was onverbeterlik. Smaakvol en duursaam, sonder om intimiderend of blink en grootdoenerig te wees. In die kwarteeu wat ek reeds verliefdes help om die groot belofte plegtig en wettig te maak, kon geen troue naastenby met hierdie een vergelyk word nie.

Die plaas se naam is Elandsvlei in die Bosveld naby Vaalwater. Bo-op die hoogte was die tent wat met moderne hoeke en vleuels in alle rigtings gestrek het soos ’n argitektoniese kunswerk. Penne ingeboor in soliede graniet. Die bruidspaar en gaste het oor die vallei met damme, bosveld en die sonsondergang gestaar, terwyl die veraf kamele, renosters en bokke medegetuies was toe die groot “ja” van die liefde die begin van die saampad tot-die-dood-ons-skei aangekondig het.

Die onthaal was in ’n skuur, wat menige hotel sou laat skaam kry oor sy gebrekkige ambience. ’n Afrika-koor. ’n Sanger wat Frank Sinatra in die skande sou steek. Die mooiste woorde oor pa’s en ma’s se onbaatsugtige lewe van opoffering. Spyseniers wat eksotiese disse optower. Idilliese saamwees in die skoonheid van die Bosveld.

Ná die troue verwonder die pa van die bruid hom dat maande se werk in ’n paar uur verby kan wees.

Maar miskien is hy verkeerd. Sulke liefdeswerk gaan nooit verby nie. Geen saamwees is tydelik nie. Dit leef vir altyd in ons herinneringe.

En ’n mens sonder mooi herinneringe is arm. Selfs Hy wat ons lewe gaan beoordeel, gaan dit beoordeel op grond van die herinneringe van dit wat ons met al ons mag en liefde vir mekaar gedoen het.