sr1004laastese
Rubrieke – Koos van der Merwe

Mooi dag, nè?

Dis nou as jy soek na iets om te sê wanneer jy eintlik voel jy het niks om te sê nie. So kan ’n mens gesels wanneer jy heimlik besig is om stil te bly, maar nie aanstoot wil gee nie. Dis ’n genade dat daar sulke dinge is waaroor gesels kan word. Ek het al dikwels gevoel dat ek met iemand gesels terwyl ons albei dankbaar is dat nie een van ons iets wil sê nie. En ja, dan was die weer en die tyd wat vlieg ons bondgenote. Veilig, elkeen in ons eie stille allenigheid, het ons met hoflike vriendelikheid die ongemaklike stilte verbreek sonder om eintlik iets te sê.

Ook wanneer ’n mens regtig wil gesels, maar daar is ’n tree of twee wat eers gegee moet word, is die weer en die voortsnellende maande of jare die antwoord. Soms is daar ’n instinktiewe wete dat jy en die ander persoon nog nie deur die misterieuse reëls van die binneste toegelaat word om mekaar regtig te ontmoet nie. Daar is tolgeld wat betaal moet word voordat julle verder kan reis op die pad van dieper gesels. Miskien mekaar verwaarloos of êrens ’n bietjie spanning beleef. In hierdie ongemaklikheid kom die weer en die tyd tot ons redding. Of een van julle beleef groot hartseer, en dan bars ’n mens nie net in nie, jy kom stadig en voel-voel met die eerste salf van die weer en die tyd wat vlieg. Hoe nodig het ons nie hierdie tydbeproefde handvatsels waarmee ons die deure na ’n ander, wat effens ver is, mooitjies kan oopmaak nie.

Maar pas op vir hulle wat geleer het hoe om die weer en die tyd te misbruik. Geen sprake van deernis of die kundige eerste tree van ’n dieper reis nie. Moenie glo dat hulle eintlik niks wil sê nie, maar net hoflik is. O nee, hier kom ’n aanslag. Misbruikers van die weer en die vlietendheid van die lewe bars eintlik in terwyl jy niksvermoedend onder die wanindruk gebring word dat hulle half buite bly totdat die deure vanself oopgaan. En as hulle binne is, saai hulle verwoesting. Praat oor skandes waarvan jy nie wil weet nie. Vra oor jou sake waaroor jy in ’n leeftyd nie met hulle sal wil praat nie. Dwing opinies of dogmas aan jou op wat hulle nêrens verkoop kan kry in die wêreld van regdenkendheid nie. Min dinge voel so verkeerd in verhoudings as wanneer iemand op ’n intimiteit aanspraak maak wat nog nooit bestaan het nie. Wees op jou hoede vir hulle wat die weer en die tyd verkeerd gebruik, hulle bring onweer en slegte tye.

Soms kruip die weer en die tyd dieper in die hart in en word meer as net praatjies wat ander praatjies vermy of inlei. Vriende wat lank in Kanada gebly het, vertel my onlangs hoe die weer daar met hulle gemaak het. Hoe die lang, donker, ysige winters in die hart kan kruip. Hoe die hart kan verlang na sonskyn en braaivleis. Die groener gras aan die ander kant hulle laat smag na ’n stukkie Karoo-dorheid of die versengendheid van ’n Bosveld-somer en die lofliedere van sonbesies. En o, die terugwees, hier waar die son skyn. Ja, die weer is nie altyd sommer net ’n ding waaroor ligweg gepraat word nie, hy lê diep, soos jou plek. Jou wortels. Jou siel.

Só is dit ook met die tyd. Daar kom dae dat jy anders daaroor praat as in die eerste minute in jou haarsalon; nie dat ek meer die voorreg het om geld te betaal om my bietjie hare so te laat pamperlang nie. Ek begin deesdae verskillend dink oor tyd. Hoe anders as ’n mens skielik agterkom vyftig het jou ingehaal? Maar word ’n mens regtig vyftig jaar oud, of sestig of veertig? Word jy nie op daardie magiese dag wakker om nog een dag te leef nie? En so, of jy ses en twintig of agt en dertig en ’n half jaar oud is, gee die lewe jou elke dag net een dag. Soos die Psalmis gebid het tot Hom aan wie die tyd en die weer behoort: Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!

  • Heila

    Liewe Koos, ons is amper bure (ek meen woon op buurdorpe) en ek stem volkome saam met jou – die vyftigs het my en my man ook ingehaal en ons sug van verwondering want waar is die jare heen? Daar is nog so baie om te doen en te sien.. maar ons het n keuse gemaak om op verskillende kontinente te woon agv werksverpligtings… hoe dom kan mens nie wees nie en dit op verby-vyftig? Gisteraand het ons belowe om oor 5 weke wanneer hy terug is in die land te gaan sit en te besluit wat maak werklik saak in ons lewens. Van my kant af n besliste los die werk en kom huistoe – ek sal met minder klaarkom want ek wil my man saans by my he en ons kinders en kleinkinders meer gereeld sien… elke dag, sonskyn of reen is vir my n grou, koue dag want waarom moet ek in elkgeval opstaan, stort, aantrek en parfuum spuit? Vir wie? Dankie Koos dat jy met hierdie ope brief bevestig het wat ons lankal moes gedoen het. Tyd is n kort woordjie en dis net aan ons geleen – laat glip jy dit verby is dit verewig oor en verby…. mooi bly

  • http://llgplxstjkpk.com/ velczkid

    AjJI3R xsiwmtbletme, [url=http://jsxlrplhcgve.com/]jsxlrplhcgve[/url], [link=http://ubnzbvmvquiq.com/]ubnzbvmvquiq[/link], http://qigdtylhnlms.com/