sr1112laaste_se_01
Rubrieke – Koos van der Merwe

’n Psalm 23- Kersfees

Hy verkwik my siel. So, sê die psalmis, maak die groot Skaapwagter met hom wat so in sy enigheid besig is om sy deel te doen dat ander eendag heilige geskrifte kan hê om te lees. Verkwik. Hy
verkwik my siel.

Daar is woorde wat ’n oudheid en ’n edelheid met hulle saamdra. So asof hulle betekenisse met hulle saambring waarvan ’n mens vandag byna niks weet nie. ’n Mens moenie te vinnig van sulke ou woorde ontslae raak nie. Daar kom ’n dag dat jy hulle nodig kry. Dan help ’n byderwetse woord nie
maklik nie.

Jy het woorde nodig wat meer beteken as wat die woordeboek sê. Woorde wat swaarder weeg as die duidelike, vietse woorde van vandag en gister. Ja, die binneste het soms woorde nodig wat baie ver kom en langs die pad al hoe dieper geraak het. Soos ’n ou muntstuk wat duisende kere meer werd is as wat op hom geskryf staan. So is die woorde waarna die hart soms roep. Duur woorde. Ou woorde.

So ’n woord kry Dawid nodig as hy wil vertel van hoe hy opgetel moet word as dit swaar met hom gaan. Verkwik is ’n heelmaak-woord. Want soms word selfs die skape in die groot Herder se kudde effens olik. As die hart die dag sukkel om te glimlag, het dit ’n dosis verkwikking nodig. Om verkwik te word is om weer kans te sien. Selfs uit te sien.

Verkwik is soos ’n deur wat oopgaan, al is dit op ’n skrefie, en vir die hart wys dat die son êrens besig is om te skyn. Elke binneste kom daar. Daar waar Dawid was toe hy sy psalm geskryf het.  Elke skaap verdwaal soms tot in die somber skaduwees waaruit hy verkwik moet word.

En so saam met die verkwikking gaan Dawid se pen na stille waters toe. Hy kom by groen weivelde en paaie wat hom weer op die regte koers bring. Daar sien hy spore wat hom laat voel hy is nie meer verdwaal nie. Want so voel ’n onverkwikte hart. Hy voel hy weet nie waarheen nie. ’n Onverkwikte hart verdwaal op ver paaie waar water skaars is en brood min. ’n Onverkwikte hart bly honger en dors. Tot hy verkwik word.

Ja, verkwik is nie net ’n heelmaak-woord, ’n medisynewoord nie, dis meer. Dis ’n woord vir ’n siel met ’n dors en honger wat net deur die Herder versadig kan word. Soos ’n skaap wat uit die woestyn by die weiveld langs die plaasdam aankom. By waters waar rus is. En verkwik word hy sekerlik verkwik. Hy praat nie sommer net van beter word nie. Hy raak byna uitspattig. Dis gedekte tafels en bekers wat oorloop. En die verdwaalde skaap word koning.

Maar Dawid weet van meer as honger en dors wat in ’n feesmaal verander. Van meer as skaduwees en olikheid. Hy weet van paaie waar die skaduwees meer as donker is. Hy weet van vyande en die donkerte van lewensgevaar. Maar verkwik is ’n woord wat ver gaan. Dis ’n woord wat vyande kan weghou en wat selfs die grote dood in toom kan hou.

Wie het woorde sterk en swaar genoeg vir tye wanneer die hart op sulke plekke gekom het? Dawid reken die Herder se verkwikking kan die siel op enige plek gaan optel en huis toe bring. Verkwik is ’n woord ouer en sterker as enige aardse bedreiging. Lank voor die dood gekom het, was verkwik deel van die Herder se groot woorde. Verkwik kom uit ou wêrelde waar lewe nie ’n einde of teenoorgestelde het nie. So ’n wêreld was. Dit is steeds. En dit kom weer.

Vanuit so ’n wêreld is ’n Kind gebore. ’n Wêreld waar geen pad ’n verdwaal-pad is nie. Waar dors en honger uitheems is en verkwikking byna oorbodig is. Waar dit bloot gehou word vir wanneer pelgrims daar aankom vanuit ’n dorstige plek. ’n Plek soos ons wêreld.

Ja, Hy is gebore. Die Goeie Herder. Hy wat die siel verkwik. Dis my Kerswens vir elke SARIE-leser. Mag jy ’n Psalm 23-Kersfees hê. Mag jy hierdie Kersfees saam met Dawid sê: Hy verkwik my siel.

  • Amanda

    Koos, ek geniet jou stories elke keer as ek dit lees en verlang terug na die kere wat ek julle gemeente in George besoek het, vir my was jou prediking altyd baie besonders. Partykeer het dit net geklink na ‘n storie, maar die storie het altyd ‘n verhaal gehad wat lank in ‘n mense se gedagtes gedwaal het en wat jy onthou het. Geluk met al die postitiewe dinge wat in George gebeur, ek weet God het ‘n plan met jou en die gemeente. Ons was baie, baie lank deel van Koinonia, Koinonia gemeente het ‘n spesiale salwing op hom gehad en al het daar baie dinge gebeur wat goed en sleg was het die gemeente die goeie behou. Gaan so voort en verkondig aan alle mense wat wil hoor die Woord soos wat God dit vir jou gee om vir hulle te bring. Geseende kersfees vir jou en jou gesin.

    Groete in Jesus Naam
    Amanda van der Merwe

  • Ilse du Toit

    Koos, jy is begenadig met woorde! En jou verkwikking met die Woord en die woord raak ook ‘n beker waaruit ons kan drink en versadig word! Baie dankie!!

  • Marietjie

    Kos vir die siel!

  • Antoni Eilerd

    Antoni Eilerd het gese – stories soos die is ver van die werklikheid, as jy nie vir jouself sorg en ander mense inloop nie sal nu voorkom nie, so my honger en dors donder ek uit ander mense uit.