Rubrieke – Koos van der Merwe

’n Vakansie wat werk

Een van daardie vakansies wat regtig werk, behalwe vir die ekstra kilogramme waarmee jy aan jou lyf huis toe kom.

’n Vakansie kan werk – of nie. Min dinge is so salig soos ’n vakansie wat sy kant bring vir die lafenis waarna die siel verlang. En min dinge is so ’n foltering soos ’n vakansie wat van dag een ’n uitmergelende uitdaging is om mededingende skedules, agendas en persoonlikhede te probeer sinchroniseer.

Maar hierdie vakansie was van die regte soort. Die soort wat in die siel se voorraadkamer gebêre bly vir die maer jare, wanneer die plig en roetine ’n mens na ver paaie laat verlang.

Ek het al dikwels nagedink oor watter bestanddele só ’n rustyd moet hê. Daar is natuurlik vele benaderings. Deeglike beplanning versus die avontuur van verrassing. (Dure ondervinding het my lojaliteit verskuif van die verrassingskamp na die beplanningskamp). Die almal saam versus net ons gesinnetjie. (Albei is nodig). Luuks versus eenvoud. (Ek kon nog nooit by eersgenoemde bykom nie. My reise oorsee is maar nog merendeels op TV en in storieboeke.)

Maar die een ding waarvan ek seker is, is dat ’n vakansie, selfs ’n geslaagde een, ’n mens kan mislei. Jy kan tuiskom en dink dat dit goed is om so nou en dan net af te skakel van die nodige en besig te raak met die meer onbenullige dingetjies wat net lékker is.

Die waarheid is dat ’n mens juis tydens ’n vakansie besig raak met die dinge wat baie nodiger is as wat jy dink. Dis hartseer dat ons dikwels eers uit ons omgewing moet wegkom om regtig die luilekker saligheid van ’n goeie boek en ’n kaggelvuur te herontdek. Lang kuiers, saam kosmaak, ver loop, speel, lag, niksdoen, drentel op plekkies wat vir jou mooi is, in ou klere langs koue damme staan … wat ook al vir jou soos ’n luukse voel, is dikwels juis nié dit nie.

Dis ’n noodsaaklikheid.

Hierdie ou planeetjie waarop ons woon, draai al jare te vinnig. Die groot Ontwerper van die lewe het stilword en feesvier ’n baie groter en belangriker deel van die jaar gemaak as net ’n jaarlikse vakansie. Die goeie Herder van ons mooiste Psalm wil ons meer dikwels by groen weivelde bring en neem na waters waar rus is.