Rubrieke – Koos van der Merwe

Oral preke

Kunsgalerye is vol preke. Kinders wat lag, preek. En kinders wat huil. Die maan preek. Die sterre en die son. Sinkhuisies. Paleise in Houghton ook. Daar is nie te min preke in die lewe nie. Die probleem kom by die kuns om te kan hoor. En die gewilligheid.

Laataand. Ek en my tienerseun, wat skielik langer as ek geword het, is alleen op pad huis toe. Hy vra of rook sonde is. Ek word yskoud. My hart klop in my keel. Is soms sonde. Watse sonde? Ek bid stil, dringend en vinnig. Rebellie. Hardkoppigheid. Onverskilligheid. Miskien onnoselheid. My hart klop woes. Hoekom vra hy? Daar is kinders in sy klas wat vir ’n vriend van hom preek oor dié se rokery en iets pla hom oor die prekery, meer as wat die vriend se rokery hom pla. Ek sug dankbaar en verlig.

Die preek begin. Ek luister. Op sy droë, onbeholpe manier verkondig hy sy kinderlike wysheid. Hy het só gereken: Dit klink vir hom die prekers is reg. Rook kan nie ’n goeie ding wees nie. Rook moet seker ’n sonde wees. En hulle klink asof hulle die Bybel ken. Praat van jou liggaam as ’n tempel. En hy glo ook in die Bybel. Maar iets pla hom en hy weet nie mooi wat nie. Dis vir hom asof hy heeltyd voel daar’s ’n groter sonde aan die gang. Erger as die sigaret-ding.

Die donker pad word mooi en my seun kan nie sien nie, maar my oë word effens klammerig. Hy het nou gedink: Sy vriend was seker toe hy begin rook het ’n rebel of ongehoorsaam of iets, maar nou wil hy ophou en hy sukkel. En hy begin kerk toe kom. En hy is skaam. En my seun is jammer vir hom. Dis asof sy vriend meer swak is as wat hy sonde doen. En dit klink vir hom die prekers wil sy vriend nie regtig help nie. Hul preke laat hom net meer skuldig voel. Hul feite klink vir hom in orde. Hulle is seker reg. Maar nie goed nie. En hy dink dis belangriker om goed te wees as reg.

En my trane loop. Want ek het ’n preek gehoor. By my seun.