Rubrieke – Koos van der Merwe

Reggemaak

Om te saag en te kap, te boor en te lym. Miskien is daar iets in die ontwerp van ’n man se binnekant wat hom ’n trofee wil laat huis toebring: Kyk wat het ek gemaak!

Dalk wil ons stadsjapies heimlik soos ’n boer uit die veld kom met sweet op die lyf en met hande wat hard gevat het en raak gevat het. Wil ons nie soms voel die
skoonheid in die huis kyk met bewondering na ons omdat ons die dinge gedoen het wat “net ’n man” kan doen nie? ‘n Man met growwe hande. Sterk hande. ’n Man wat met ysters kan werk. ‘n Man wat na grond en hout en olie ruik as hy huis toe kom. Wil ons nie soms voel die afstand tussen vrou en man is groot nie? Het ons nie die misterie nodig nie?

Onlangs het die hunkering na harder en vuiler dinge as boeke en rekenaars my weer gegryp. Al waarheen ek my kon wend, was my deurmekaar motorhuis. Sy,
wat gemeen het sy doen goed deur haar hulp aan te bied met die regpakkery, het gou agtergekom sy betree heilige grond en het met diepe insig besluit om haar ’n paar dae buite die grense van die gevaarlike wêreld van my bietjie ysters en stof te hou. Ek wou nie gepla word nie. Ek was besig met ’n man se goeters.

Die groot regpak begin. Byna ’n week lank. Groot besluite is geneem. Wat moet weg en wat moet bly. ’n Mens kry weggooiers en versamelaars. Ek is nie ’n weggooier nie. En só kom ek af op die ou forelskepnetjie wat jare gelede reeds gebreek het. Dit was my jonger broer s’n. Hy is nie meer met ons nie. Die netjie is nie veel werd nie. En stukkend. Sommige sou sê onherstelbaar. Vorige pogings om dit reg te maak het misluk. Die oomblik het gekom om dit weg te gooi.

Maar ek kon nie. Ek moes weer probeer. Ná ure van boor en kap en lym en nuwe veselglas-stafies saag, het ek ’n trofee gehad. Ek is donker in huis toe. My trofee gaan wys. Iets is reggemaak. Iets wat weggegooi moes word.

En wanneer Paasfees kom, onthou ek: Ek kon weggegooi gewees het. Maar ek is heelgemaak.