Rubrieke – Koos van der Merwe

Reise

Dis nie asof dit oud is nie, dit is net. Dis deel van die lewe. Dit was daar toe jy ’n kind was en jy oorweeg nie eers die moontlikheid dat dit op ’n dag nie meer daar sal wees nie. Dinge soos ’n SARIE-tydskrif. Dis net daar. Deel van hoe dinge is.

Ek het al baie gewonder hoe dit moet wees om ’n tydskrifredakteur te wees. Om elke maand nog ’n tydskrif die lig te laat sien met nuwe inspirasie. Hoe kry ’n mens al die stories? Hoe vind jy maand ná maand uit wat in bekendes se lewens aangaan? Hoe kry jy dit reg om harte keer op keer aan te raak met die regte woorde en prentjies? Ek wonder hoe daar agter die skerms gewoel, gebel, gery en soms gehuil word. Alles om ’n boek vol drome in iemand se huis te laat beland.

Min tydskrifte kry dit reg om dekades te oorleef en deel van die kultuur te word. Daar moet iets baie uitsonderliks gebeur voor mense iets as volksbesit begin sien. Wat is dit wat ’n tydskrif so ’n byna ikoniese status gee? Daar is seker geleerdes wat ’n lys van essensiële eienskappe kan opnoem, maar ek dink dat mense ’n tydskrif koop om in die bladsye op reis te gaan.

’n Reis op papier na plekke waarheen jy eendag regtig wil gaan. Dis asof ander se spore jou help om te droom van die paaie waarop jy nog self wil loop. Ons almal het dit nodig om geïnspireer te word, saamgeneem te word in die momentum van hulle wat gekom het waar ons wil wees.

En wanneer ons geïnspireer word, droom ons nie net nie, ons begin self reis. Doen. Leef. Ons begin ons eie stories skryf. Omdat ons nuwe horisonne gesien het, span ons ons seile en bou ’n lewe. ’n Lewe vol van herinneringe wat eens op ’n tyd net drome was. Ja, ons skryf ’n storie. Ons is besig om ons eie tydskrif te publiseer.

En al hoe ons eie “tydskrif”, soos SARIE, die toets van die tyd sal deurstaan, is as dit vol is van die regte drome en die regte herinneringe. Want eendag, as ons
elkeen voor die groot Redakteur staan, is dit al waarna Hy gaan kyk. Watter herinneringe het ons gebou met die drome wat ons gedroom het? Het ons uiteindelik
op die reis gegaan?