somer_opskop_poster
Rubrieke – Koos van der Merwe

Reise oor tydgrense

Ná ’n jaar van diep en ernstig lees, roep die antieke, sorgvrye wêreld van Asterix en Obelix my. Ek gaan jag saam met hul wildevarke en bedremmelde Romeinse soldate. Ek reis na verre lande sonder om ’n vliegkaartjie te koop.

Ons almal het sulke reise nodig, reise wat nie net oor landgrense gaan nie, maar oor tydgrense. Reise na dae wat verby is. Reise na dinge wat oud is.

Snaaks hoe die wêreld al voller word van nuwighede en hoe die ou dinge terselfdertyd al meer gesog begin raak. Mense vlug naweke uit hul moderne paleise na ou plattelandse huisies op soek na die luukse van ou goedheid. Daar is iets wat verlore raak in ons moderne manier van leef. Min van ons het die voorreg om te bly op die dorp waar ons grootgeword het. Die meeste van ons kan maar net in die verbeelding terugreis na die speelplekke van ons kleintyd.

En só, terwyl alles al nuwer raak, verlang ons al meer na die dinge wat verby is.

Want daar is nou maar eenmaal min dinge so goed en heilsaam vir die siel en die lyf soos die goedheid van ou, goeie goed. Ou meubels, ou boeke, goeie ou rooiwyn, ou musiek, ou klere wat al deel van jou lyf geword het, ’n ou kombers, ou herinneringe … Ou vriende.

Wat sal die lewe wees as alles net altyd nuut is? Een wyse denker het gesê ’n mens mag nooit méér boeke lees van mense wat nog leef as van mense wie se boeke langer as hulleself bly voortleef het nie. Ou wysheid het ’n manier om moderne sienings en modes tot nadenke te stem. ’n Mens wat sy geld en tyd bestee om meer en meer nuwe dinge aan te skaf, raak al armer.

Kersfees gee die hart ’n kans om vol van ou goedheid te word. ’n Kans om die warmte van nabywees te voel, saamwees, ou herinneringe op te diep, ou stories te vertel. Ons vertel ons ou grappe, eet ons ou gunsteling-geregte. Miskien huil ons saam oor ’n ouer Kersfees toe iemand nog saam met ons was. Maar ons is saam in die veiligheid van iets wat ouer is. Die hart wil teruggaan. Hy wil wortels hê. Hy wil nie vernietig word deur die verslawing van die nuutheid nie.

En só reis ons nog ’n Kersfees na ’n ou wêreld. ’n Wêreld waar Genade in ’n stal onder ons kom woon het. Die ou eenvoud van skaapwagters se lof. Ons verwonder ons weer oor die eeue oue misterie van Iemand wat gekom en die geskiedenis verander het.

En terwyl ons vra dat Sy ou boodskap van liefde en vergifnis ons harte oorspoel, weet ons – hier is die ware oudheid waarna ons harte vra.