Rubrieke – Koos van der Merwe

Soos manna

Ek ry kerk toe omdat ek al lank voor die diens begin daar moet wees. Sondae ry ek stadig. Ek ry gewoonlik stadiger as almal wat ek ken, maar op Sondae nog stadiger. ’n Bedevaart vanaf Heroldsbaai na George. Teen die spoed van toewyding.

Die lui vroegwinterson ontwaak uiteindelik en spoel sy rooi gesig af in die mis wat soos ’n goue see vanaf die ver, byna versteekte berge op ’n strand van weiveld,
bees- en boomsilhoeëtte uitspoel. Vir ’n oomblik is ek oorrompel deur ’n gesig wat miskien net ek op daardie vroeë oggend gesien het. Asof ek onverwags en sonder uitnodiging opgedaag het op ’n plek wat nie vir aardlinge se oë bedoel is nie. ’n Voorspel van hoe alles dalk eendag sal lyk. ’n Geheime kleedrepetisie vir ’n tyd wat kom wanneer goud op strate en velde so gewoon soos plaveisel en gras sal wees.

My kamera was by my. Elke klikgeluid daarvan was vir my soos Agnus Dei. Woorde sou nie help om lof te bring nie. Dit sou bedremmeld en beskaamd moes meeding teen die stille koorsang van ’n sonsopkoms in die mis van die Tuinroete. As jy dit nog nie beleef het nie, hoop ek dat jy eendag met die reuk van fynbos en see, in die ampersnerpende laaste donker en eerste lig van ’n Suid-Kaapse winteroggend in die goudrooi mis verkrummel.

Vier uur later en die dag het sy gang gegaan. Twee oggenddienste is verby en ek ry stadig huis toe teen die spoed van nabetragting. Ek kom weer by vanoggend se stukkie hemel, maar dis nie meer daar nie. Want so is hemelse oomblikke. Jy moet hulle inasem en bêre wanneer hulle opdaag. Hulle kom nooit weer nie.

Nooit weer nie? Nee, want die groot Kunstenaar van die lewe antwoord een gebed nooit nie: Encore! Wat Hy gee, is vir vandag. Soos manna. En net hulle wat ’n dag ingaan met oë wat soek vir sy kunswerke, hulle wat uitkyk vir die manna, dit raaksien en optel, sal sy spore al hoe meer sien op die pad wat hulle loop. In die glimlag van ’n kind wat môre groot is. In die reuk van ’n koppie koffie en die kuier van ’n vriend of die stilte van ’n ou kerkgebou.

Die lewe is ’n reeks oomblikke. Hoe meer jy raaksien en gryp, hoe meer lewe jy.