Rubrieke – Koos van der Merwe

Spring! Koos van der Merwe se Laaste sê

Jy kan jou rybewys kry. Saam met ’n rybewys kom vryheid. Jy ry self waar jy wil kom en besluit self wanneer om weer te vertrek. Twee van die belangrikste keuses in ’n volwassene se lewe: Waarheen ry ek en hoe lank vertoef ek? En op agttien is die bestemmings waaroor jy moet besluit formidabel, hulle gaan jou toekoms bepaal. Akadamiese kruispaaie lê voor jou. So ook romantiese, geografiese en morele kruispaaie. Om agttien te word is nie speletjies nie.

Daarom is die geskenk wat ’n mens vir jou kind koop op so ’n groot verjaardag eweneens baie belangrik. Tog het ons nie ’n keuse gehad toe ons seun onlangs die
groot agttien oorgesteek het nie. Hy en ’n vriend het besluit hulle gaan spring. Ja, ondanks alle wysheid wat deur eeue oue instinkte in die oorlewingsmeganismes
van die menslike spesie geprogrammeer is, gaan hulle hul agttien jaar oue lywe aan die onwrikbare wet van swaartekrag oorgee. Vanaf die hoogste brug in die
wêreld waar ’n mens dit met ’n rek om jou enkels doen. Bungee jump by Bloukrans.

Ek doen my plig om teen die voortvarende onverantwoordelikheid te waarsku. Ook teen die finansiële dwaasheid om te betaal om te val. Jy koop niks nie, jy belê niks nie en jy vat niks huis toe nie. Behalwe jou verrinneweerde senuwees en ’n leër beursie. Ten spyte van selfs my ernstige teologiese besware dat die verleier reeds eeue gelede ook die liewe Heer versoek het om die wet van swaartekrag te tart, is die pad Bloukrans toe aangedurf met die volle bravade van Agttien. Die volgende spronge word al klaar beplan, uit vliegtuie en van kranse af, aan toue en seile en vlerke, oor watervalle in tengerige bootjies. Daar is hoogtes en dieptes en vreemde plekke oor verre grense en ons was nog nie daar nie. Al my waarskuwings help niks. Ons is agttien en die lewe lê voor ons.

Dan breek die oomblik van waarheid aan. Die bravade is verby. ’n Senutergende twee uur se wag ná registrasie maak dat die sprong nie net ’n vinnige oë-toemaakwaagstuk is nie. Daar word nie meer gepraat oor die dapper planne vir die toekoms nie. Die saak raak ernstig. Uiteindelik stap hulle die lang pad oor die brug op pad na die groot val toe. Meer as 200 m onder hulle wag die harde werklikheid van hierdie reis se bestemming. Ek sien die vraagtekens op my seun se gesig. Sy agttien lyk broos en bang. Hy moet spring. Af en deur. Af is ’n afstand wat gemeet kan word. Deur is die onmeetbare afstand tussen vrees en durf. Deur hierdie grens kan niemand vir jou spring nie. Die rek is om jou enkels, maar die eerste sprong gebeur in die hart. En vir hierdie sprong is daar nie ‘n veiligheidsrek nie.

Die sprong is gedoen. Af en deur. En die avontuur van die lewe lê voor vir twee vriende wat gespring het. Ek maak ’n plegtige belofte dat daardie brug nooit die voorreg sal hê om my die dieptes in te sien tuimel nie. Ek los dit maar vir hulle wat dit bevrydend beleef om gillend, kop eerste, te sien hoe klip en grond teen ’n angswekkende spoed nader kom, net om weer die hoogte ingeruk te word voor die volgende gillende val. Gee my maar eerder ’n rots met ’n visstok, of ’n rusbank
met ’n boek in die hand, solank my voete net veilig op Moeder Aarde is.

Maar tog, ons almal moet spring. ’n Stroperige geloof wat nie durf en dapperheid vereis nie, is nie die moeite werd nie. Ware geloof vra dat jy moet spring. Miskien nie af nie, maar wel deur. En die sprong deur die grense van die hart lyk soms so onmoontlik. Ons almal wil terugdeins. Maar met Pase kan jy onthou dat daar ’n houtkruis was en dat Iemand reeds die grootste sprong gegee het. Die diepste donkerte in. Iemand verstaan die vrees voor elke sprong. Hoor Hom as Hy jou verseker dat jy nooit alleen is nie.

En spring . . .

  • Dr Ans van der Westhuizen

    Koos se stem is FENOMINAAL. Beide wanneer hy sing sowel as wanneer hy voordra. Ek het pas sy CD in die hande gekry waarop hy sy boek Optelwoorde voorlees. Ek is dringend op soek na ‘n kopie van die boek vir iemand maar kan dit nie opspoor nie. Ek wil graag die adres bekom waar sy Eden gemeente is asook sy selfoonnommer. Dankie, Dr. Ans van der Westhuizen.

  • Amanda

    Liewe koos ek verwys na jou artikel ‘die geboorte van penarie kontrepsie en vennote’. Voel of boodskap vir my geskryf was. Is tans in n fase van my lewe wat ek moet besluit of groot salaris en gerieflik leef en my siel gaan dood OF neem n geloofstree en verhuis na platteland (daar in jou kant van die land) en glo dat ander geleenthede wel sal opdaag vir hul wat GLO.