Rubrieke – Koos van der Merwe

Stilwees is ons krag

Dis nie so maklik om altyd te weet of iets die waarheid is of nie. Die een dag lees ’n mens dat botter gif is en margarien dié ding vir ’n gesonde hart, om net die volgende dag te hoor eiers en botter was toe al die tyd glad nie gevaarlik nie, selfs baie belangrik om die hart aan die gang te hou, maar margarien gaan jou vroeg graf toe stuur.

Waarheen kan gewone sterflinge gaan om die eeue ou vraag “Wat is waarheid?” beantwoord te kry? Hoor ’n mens die woorde “volgens nuutste navorsing” kan jy maar weet, die waarheid het verander, wat gister feite was, is vandag mites.

Die saak raak nog ingewikkelder as dit kom by halwe waarhede en clichés wat ons so maklik as tydlose waarhede aanvaar. Plaas jy hulle onder die mikroskoop van eerlike denke wankel hul aanspraak op die waarheid. Dink byvoorbeeld aan die uitdrukking: “Tyd heel alle wonde.” Dis ’n waarheid, behalwe natuurlik vir dié kere dat tyd wonde erger maak. Is die uitdrukking dan die waarheid?

Die enigste korrekte antwoord is: “Dit hang af.”

’n Ander uitdrukking waaroor ’n mens maar mooi moet nadink voordat jy dit die eretitel van waarheid toedig, is: “Hoe meer siele, hoe meer vreugde.”

Ek was al in geselskappe waar ek gewens het dat sekere siele nie teenwoordig was nie, en ek was sélf al die siel wat die vreugde van die oomblik bederf het. Ja, hoe meer siele, hoe minder vreugde is soms nader aan die waarheid.

Nog ’n wysheid wat orals opduik asof geklee in ewige gewaad van onaanvegbaarheid is dat iemand wat voor ’n moeilike besluit te staan kom, maar net na sy hart moet luister. Klink na sulke goeie raad, totdat jy natuurlik hoor hoe die profeet Jeremia waarsku dat die hart bedrieglik is bo alle dinge.

Só lees ek nou die dag in die gimnasium die waarheid dat beweging medisyne is. En met my fiksheid, wat maande agterstallig en kilogramme oorbodig is, weet ek dat iemand hier met ’n groot waarheid na vore gekom het.

Maar later die dag, toe ek besef ek was só besig dat ek ankerloos begin voel het, het ek geweet dat dit nie altyd waar is dat beweging medisyne is nie. Miskien is dit meermaal eerder die siekte.

Toe word ek stil en lees van groen weivelde, waters waar rus is, en hoor êrens hoe ’n profeet maan dat stilwees en vertroue ons krag is. En ek weet dis waar.

Ewig waar.