Rubrieke – Koos van der Merwe

Tel die dag

Ek het beleef wat ek sedert kindsdae onthou – die gevoel van bewondering as ’n ouer persoon wat al lank die pad loop, in my die begeerte na daardie wêreld van diep wysheid wakker maak. Toe kom die skok. Hy begin uitwei oor die sangers van die aand en vertel met nostalgie hoe hy as jong weermaglid die eerste keer na ons geluister het.

Met angs en ongeloof maak ek somme en weier om die antwoord te aanvaar. Hoe is dit moontlik? Hoe het ek dan nie agtergekom dat ek dieselfde pad (en heelwat verder) geloop het as hy nie?

En toe kom die volgende ontnugtering: ’n Jongerige gesinsman, omtrent my ouderdom, begelei die gehoor in samesang net voor ons optree. En hy vertel hoe hy as vyfjarige die eerste keer met ons musiek te doen gekry het. Vyfjarige!

Skielik besef ek dis ’n illusie: Tyd tik nie langsamerhand verby nie. Tyd staan stil. En dan – een nag terwyl jy slaap – vlieg dit. Dan word jy wakker en mense vir wie jy gister oom gesê het, is skielik jonger as jy, en ander wat so oud soos jy was, vertel hoe hulle voor jou grootgeword het. Tieners leef nie meer op dieselfde planeet as jy nie, en jou kinders giggel as jy probeer trampolien spring. Geen geleidelike proses berei jou hierop voor nie. Dit kom op ’n dag wat niemand kan voorspel nie.

Dit laat my dink aan Psalm 90, die enigste psalm in die Bybel wat aan Moses toegeskryf word. Hy bid en vra die Here vir wysheid. ’n Wysheid wat die lewe waardeer. Hy vra vir ’n manier om somme te maak. Somme wat nie geld tel nie, maar dae. Een vir een.

“Leer my om my dae so te tel dat ek ’n wyse hart mag bekom.” Só praat Dawid van dieselfde somme in Psalm 103. Somme wat seëninge tel. “Vergeet geeneen van sy weldade nie.”

Of mense vir jou oom of tannie begin sê of nie, daar is net een belangrike ouderdom: Wat jy vandag is. Want die enigste dag waarop jy ooit iets sou kon vermag of geniet, is ’n dag met die naam Vandag.

Tel hierdie dag en laat hom tel.