Rubrieke – Koos van der Merwe

Uit laaie

Omdat ek lank voor ons troue reeds in die huis gewoon het, het sy as nuwe intrekker haar begin vergewis van wat alles oral versteek is. Want trou beteken mos wat myne is, word nou hare, en hoe sal sy dit wat hare is, kan gebruik as sy nie eers weet wat of waar dit is nie?

En so met die gesnuffel het sy op my gedigte afgekom. Diep weggebêre het hulle gelê en die geheime van my geskiedenis bewaar. Woorde net vir myself en die
stowwerige laaie van herinneringe bedoel. Hoe verras was ek nie om te sien dat die weggesteekte woorde haar diep raak nie. Natuurlik het Mevrou dadelik begin om die verstrooide en planlose outeur aan te spreek. Hoekom laat ek sulke goed net lê? Ken ek as prediker dan nie die verhaal van die talente wat begrawe is nie? Dis ‘n skande dat ek my liedjies en gedigte so wegsteek. En só het ek begin om my pogings met woorde en musiek uit te haal.

Onlangs het ons in die gemeente ‘n uitnodiging aan lidmate gerig om deel te neem aan ‘n publikasie. Bring wat jy het. Kom ons kyk of ons ‘n bundel kan  publiseer. Ek het gewonder wat na vore sou kom, maar sou in my wildste drome nie verwag om sulke skatte te ontdek wat uit die laaie van gewone mense se hartseer en liefde, vrae en herinneringe kom nie.

‘n Vrou in ‘n tehuis vir gestremdes, ‘n verpleegsuster, ‘n elektrisiën, ‘n geologie-professor, ‘n stadsbeplanner, ‘n gerehabiliteerde alkoholis – almal se stories het gesorg vir ‘n hartroerende bundel, Dit kom uit laaie.


Ek kyk met nuwe verwondering na die mense vir wie ek week ná week preek en ek wonder wat alles in laaie weggebêre word. Hy wat die meeste weet van woorde,
wat self die Woord genoem word, wil vir elke mens ‘n storie gee om te vertel. ‘n Storie wat niemand anders kan  vertel nie. ‘n Storie oor hoe Hy deel geword het van jou hartseer en hoop. Uit die storie van jou lewe kan woorde kom wat vir iemand anders oneindig baie kan beteken.

As jy dit net uit die laaie sal haal.