Rubrieke – Koos van der Merwe

Vergete …

Ek vermoed sterk dat my kinders deel is van ’n volgende skakel van die ontwikkelende menslike ras en dat ek sonder twyfel een van die laaste oorblyfsels van ’n vorige en uitsterwende skakel is. Ék is nog deel van Homo sapiens, maar as húlle wetenskaplik ondersoek sou word, dink ek sal sonder twyfel bevind word dat Homo digitales ontwaak het.

Talle van my vriende kom ook tot die besef dat hulle dieselfde wonderbaarlike ontwaking van Homo digitales in hul huise aanskou. Waar kom dié wesentjies se intuïtiewe aanvoeling vandaan as hulle met ’n selfoon, MP3-speler of rekenaar te doen het? Wie’t hulle geleer? Hoe weet hulle meer as ek van my eie TV, DVD-speler en DStv-dekodeerder?

Ek poog nederig om my kinders voor te berei vir die wrede wêreld, maar vir hul digitale aanleg kan ek geen krediet aanvaar nie. Ek het nie aan hulle hierdie verbysterende vermoë gegee om te gogel met al wat ’n ingewikkelde masjientjie vol knoppies is nie.

My seun giggel as hy my langspeelplate sien, en as hy en sy sussie my verbouereerdheid op die internet aanskou, is hul aand gemaak.

Ongemerk het ons ’n nuwe era betree. En ek het uitgevind dat alles wat met dié digitale eeu te doen het, is nie so sleg nie. As jy dit net kan regkry om agter te kom hoe goed werk, bygesê.

Dit het moeilik gegaan, maar ná ’n gesukkel het ek uiteindelik ’n digitale deurbraak gemaak en al die musiek in die huis op ’n MP3-speler gelaai. Skielik het die lewe verander. Ons ontdek musiek wat miskien vir twintig jaar nie gespeel is nie. Al ons CD’s is nou weggepak. Voorheen het dit goeie beplanning gekos om te besluit watter CD’s om in te pak vir vakansie, want dié nuwe spesie luister na vreemde klanke.

Nou pak jy een klein toestelletjie in en ’n leeftyd se musiekversameling is met jou. Dis byna ironies dat ’n moderne uitvinding vergete dinge opgediep het.

Die nostalgie kom lê warm in my hart en in die hart van die skoonheid van die huis wanneer klanke asof uit ’n vorige lewe skielik besoek aflê. En tog, dit was nooit weg nie, net vergete.

Hoe maklik gebeur dit nie dat dinge wat saak maak hierdie pad loop nie. Toe ek en my beste vriend van hoërskool ná jare weer saam begin kuier, het dieselfde warmte ’n stukkie van my gejaagde gewete beetgekry. Ons het nooit besluit om op te hou kuier nie, dit het net gebeur.

Groot dinge van die hart vra voortdurend aandag. Geloof wil gebid word. Liefde wil gekuier word. Hoop wil gekoester word.

Anders verdwyn die musiek van die lewe.