Rubrieke – Koos van der Merwe

Verkoue-lesse

Die slegste verkoues is die soort wat opdaag as jou lewe só vol dringendhede is dat dit onmoontlik is om te gaan lê. Jy weet jy behoort te luister na die seine van die lyf. Jy weet jy gaan spyt wees, maar só is dit maar nou en jy kan nie verhelp dat daar dinge is wat slegs jy kan doen nie. Jy bring maar jou kant en voel soos ’n wandelende ineenstorting. Maar ten minste sorg jy eiehandig dat die wêreld nie vergaan nie!

Dan is daar die verkoues wat só ernstig is dat jy in elk geval die wêreld om jou moet laat vergaan. Met hierdie graad van siekwees weet jy jou lyf konk in. En die rede dat hierdie verkoues nie van die goeie soort is nie, is dat jy regtig só siek is dat jy selfs jou gewone, saai of gejaagde skedule sou kies bó die ellendigheid wat saam met die week se rus kom. Jy is selfs te siek om agter te kom dat die andersins onsimpatiekes in die huis begin bekommerd raak en jou pamperlang.

En dan is daar die perfekte verkoue. Die een wat op die regte tyd kom. Jy kan bekostig om dit ’n bietjie kalm te vat. Jy is siek genoeg dat almal weet jy behoort te gaan lê, maar nie so siek dat jy nie die lê kan geniet nie. Saam met die medisyne neem jy die nodige lekkernye, hier ’n stukkie biltong en daar ’n sjokolade. Jy lees as jy lus kry. Slaap tussendeur. Neem ’n kort wandeling in die tuin. Sien hoe mooi die dinge om jou is. En ná ’n paar dae voel jy lus vir werk en woel. Lus vir die dinge wat wou-wou vir jou te veel raak.

Groot waarhede is versteek in gewone dinge soos verkoues. Ons word herinner om nie te wag tot krisisse opdaag om stiltes in ons lewens in te bou nie. Ons leer dat
die son sal opkom sonder ons hulp. Ons leer dat skoonheid en saamwees nie luukses is nie, maar noodsaaklikhede. Ons leer hoe dom ons is om nie te glo nie dat net dié dinge wat oor ’n honderd jaar steeds belangrik gaan wees, regtig belangrik ís. En ons leer dat daar ’n wêreld binne-in ons lyf weggesteek is wat soos ’n tuin versorg moet word.

Anders roep hy. Soos met ’n verkoue.